Wat is die pligte van trustees?

< Back
You are here:
Print

Baie mense is in my ondervinding trustees van ‘n familietrust sonder om te besef wat hulle pligte is. Die pligte van ‘n trustee kan kortliks as volg opgesom word:

1.    Eerstens word daar baie hoë standaarde aan trustees gestel.  Met die nakoming van hulle pligte en die uitoefening van hulle bevoegdhede moet hulle met die sorgsaamheid, ywer en kundigheid optree as wat redelikerwys verwag kan word van iemand wat die sake van ‘n ander persoon hanteer.  

2.    Tweedens moet Trustees die trustbates duidelik van hulle eie bates onderskei en behoorlike boekhouding toepas ten opsigte van die trust se finansies.  Daar moet ook ‘n afsonderlike trustrekening by ‘n bankinstelling geopen word. 

3.    Derdens moet trustees die trustdokumente vir ‘n tydperk van vyf jaar na die beëindiging van die trust in veilige bewaring hou.  Trustdokumente is soos bewyse van beleggings, trustresolusies, finansiële state en enige ander dokumentasie ten opsigte van die beheer en administrasie, vervreemding en verdeling van die trustinkomste en -kapitaal. 

4.    Vierdens moet ‘n trustee uitvoering gee aan die trustakte hetsy dit in ‘n testament of in ‘n inter vivos trustakte beliggaam is. 

5.    Vyfdens moet  trustees te alle tye die hoogste mate van goeie trou volg en hulle diskresie as trustees objektief en onafhanklik uitoefen.  Wat hierdie aspek aanbetref is dit ook belangrik om seker te maak dat daar ‘n onafhanklike trustee vir elke familietrust is.  ‘n Onafhanklike trustee is een wat nie ‘n begunstigde van die trust is nie en ook nie familie van een die begunstigdes is nie.

Uit die voormelde behoort dit duidelik te wees dat die trustees van die trust nie net kan doen wat hulle wil nie.  Hulle moet die trustakte volg, en die hoë standaarde ten opsigte van sorgsaamheid, ywer en kundigheid na verwys, volg. 

In die verband is dit ook belangrik om artikel 9(2) van die Wet op die Beheer van Trustgoed in gedagte te hou.  Die artikel handel met ‘n klousule in ‘n trustdokument wat die uitwerking sou hê dat ‘n trustee gevrywaar word teen aanspreeklikheid van troubreuk indien hy of sy versuim om die mate van sorgsaamheid, ywer en kundigheid aan die dag te lê soos in artikel 9(1) vereis.  Artikel 9(2) bepaal dat so ‘n klousule nietig is.

Elke persoon behoort dus twee keer te dink voordat ‘n trusteeskap aanvaar word. En as dit aanvaar word, moet die persoon homself vergewis van die pligte van ‘n trustee en seker maak dat die pligte nagekom word. Versuim om dit te doen kan onder andere tot aanspreeklikheid teenoor begunstigdes vir verliese ly.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF