Wat het die hof ten opsigte van laster bevind in die bekende hofsaak tussen Delta Motorkorporasie (Edms) Bpk en Jaco van der Merwe?

< Back
You are here:
Print

Dit was onlangs seker een van die mees besproke hofsake in die media. Delta Motorkorporasie (Edms) Bpk (“Delta”) is die vervaardigers van Isuzu bakkies en meer spesifiek Jaco van der Merwe (“van der Merwe”) se Isuzu KB 2.8, 4 x 4 dubbelkajuit, wat hy splinternuut van ‘n Delta handelaar gekoop het.

Van der Merwe, sy vrou en kinders het in Namibië en Botswana gaan toer. Op 5 Januarie 2001 arriveer hulle met hulle nuwe Isuzu dubbelkajuit by die Kunene River Lodge wat so 50 kilometer van Ruacana, Namibië geleë is.

Volgens van der Merwe se getuienis vind hy uit dat die onderstel gebuig is. Dit was duidelik sigbaar omdat ‘n deel van die onderstel weggeskeur het van die bakwerk. Van der Merwe was ook oortuig daarvan dat dit gedurende die laaste 30 kilometer van sy rit moes plaasgevind het aangesien hy 30 kilometer tevore die bakkie ondersoek het en alles in ‘n goeie kondisie was.

Met sy terugkeer in Pretoria het hy vir plaaslike Delta verteenwoordigers vertel wat gebeur het. Die bakkie is toe by drie geleenthede ondersoek, twee keer deur die verteenwoordigers en een keer by die fabriek in Port Elizabeth.

Hulle uitslag het daarop gedui dat die onderstel wel gebuig is, maar dat die oorsaak daarvan onbehoorlike bestuur en of oorbelading van die bakkie moes gewees het. Op grond daarvan weier Delta gevolglik om skadevergoeding te betaal. Intussen het van der Merwe gereël dat die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) ook die bakkie se onderstel behoorlik nagaan. Hulle het bevind dat daar ‘n oneweredigheid in die dikte en sterkte van die onderstel se staalstruktuur is.

Delta se antwoord hierop was dat die onderstel spesifiek so ontwerp is. Nadat Delta nog steeds geweier het om van der Merwe vir sy skade te vergoed, het hy ‘n groot slagspreuk op sy bakkie aangebring naamlik: “Die Swakste 4x4xVer” en “Grondpad knak onderstel”. Hy het ook ‘n e-pos via die internet versprei wat die hele situasie en die houding van Delta volledig uiteengesit het en ook sy opinie daaromtrent uitgspreek. Hy was van plan om ook sy 4 x 4 met die slagspreuke wat daarop aangebring is by ‘n groot 4 x 4 byeenkoms ten toon te stel.

Delta het hiervan gehoor en ‘n aansoek by die hof gebring vir ‘n interdik wat van der Merwe sou verbied om dit te doen en sou gebied om die slagspreuke te verwyder. Delta het beweer dat die optrede en die slagspreuke lasterlik is teenoor Delta as die vervaardiger van Isuzus.

Delta se aansoek moes aan die volgende algemene vereistes van toepassing om sulke aansoeke vir interdikte voldoen, naamlik dat:-

1. ‘n duidelik omskrewe reg aangetas word;
2. hierdie aantasting daadwerklik en dreigend inbreuk maak op daardie reg; en
3. daar geen alternatiewe remedie bestaan waarop Delta kan steun nie.

In gevalle van hierdie aard het die bewyslas op Delta gerus om te bewys dat hierdie publikasie onregmatig en opsetlik was. Anders as in die geval van laster teen ‘n persoon waar die actuo injuriam ingestel word, hoef Delta nie hier te bewys het dat die stellings vals is nie. Sodra die publikasie van ‘n lasterlike stelling bewys is, word die onregmatigheid en opsetlikheid daarvan veronderstel. Dit sou dan beteken dat die bewyslas verskuif na van der Merwe om te bewys dat die publikasie nie onregmatig was nie. Die hof bevind aangaande die e-pos wat na sewe en twintig persone gestuur is met die versoek om dit verder te versprei, dat :

1. die e-pos die totale verhaal dek, naamlik Delta se verweer, die uitslag van die SABS toetse, die reaksie wat Delta hierop gehad het en ook die feit dat van der Merwe se kinders daardie dertig kilometer besig was om agter in die bakkie televisie te kyk wat beteken het dat van der Merwe nie skuldig aan onbehoorlike bestuur van die voertuig kon gewees het nie.
2. ‘n mens moet kyk na watter afleidings ‘n persoon met ‘n redelike denkvermoê op grond van die e-pos sou gemaak het ;
3. hy nie van mening is dat dit nie enige redelik-denkende persoon sou oortuig om minder van Delta se produksie te dink nie.

Die hof het daarna gekyk na die slagspreuke op die bakkie. Hier het die hof wel na ‘n baie lang redenasie bevind dat die slagspreuke wel lasterlik is.

Dus was die onus op die van der Merwe om te bewys dat hierdie publikasie van die lasterlike slagspreuke nie onregmatig was nie. Hy het op sy reg op vryheid van spraak gesteun. Die hof voeg by dat hy sal moet kan aantoon dat sy uitlatings regverdige en billike kommentaar was wat beteken dat hy die volgende moet bewys, naamlik dat die uitlatings:

1. ‘n opinie was en nie ‘n bewering van ‘n feit nie;
2. billik en regverdig was;
3. die feite soos gegee waar en akkuraat is; en
4. dat die uitlatings in die belang van die algemene publiek is.

Die slagspreuke op van der Merwe se Isuzu was wel gebaseer op ‘n feitlike bewering wat korrek en waar was. Die onderstel was gebuig deur ‘n grondpad. Dit was wel in belang van die algemene publiek, veral 4 x 4 – entoesiaste.

Die hof wys dus die aansoek van die hand met kostes.

image_pdfSave as PDF