Kan ek uitkontrakteur uit my eie nalatigheid?

< Back
You are here:
Print

Kan die skool maar nalatig werk met my kinders, is die hospitaal aanspreeklik as hulle fouteer, wat gebeur as die rondtomtalie breek en my kind is beseer?

In ‘n onlangse saak is die uitsluitingsklousules wat een van die partye se aanspreeklikheid ten opsigte van nalatigheid uitsluit, het alledaags geword. Dink byvoorbeeld maar aan die skadeloosstellingsvorms wat u telkens by die skool onderteken as u kind op ‘n toer gaan, die vorms wat u teken tydens opname by die hospitaal, die gedrukte uitsluitingsklousules op u vliegtuigkaartjie, treinkaartjie, pretparkritkaartjie, lidmaatskapskaartjie by u klub, ens. ens.

Hier volg drie hofsake wat die regsposisie in ‘n neutedop saamvat en beklemtoon dat hierdie klousules normaalweg geldig en afdwingbaar is en wat u maan tot versigtigheid voordat u ‘n kontrak met so ‘n klousule onderteken:

1. AFROX HEALTH CARE BEPERK vs STRYDOM
Strydom teken ‘n toelatingsdokument tydens opname by ‘n hospitaal welke dokument ‘n klousule bevat wat die hospitaal en sy werknemers se aanspreeklikheid ten opsigte van nalatigheid uitsluit. Die pasiënt het in hierdie geval die hospitaal gedagvaar vir R2 miljoen rand wat veroorsaak is deurdat sy bloedsomloop afgebind is na ‘n operasie en het hy beweer dat dit die gevolg was van ‘n verband wat te styf aangewend was. Die pasiënt beweer dat die uitsluitingsklousule teen openbare belang is en dat hy nie bewus was van die klousule in die opnamedokumente nie. Hy voer onder andere aan dat so ‘n klousule nooit kan beteken dat die hospitaal nie meer ‘n plig het om professionele mediese sorg te lewer nie. Die Appèlhof bevind eerstens dat dit nie so maklik is om te kom sê dat ek ‘n dokument geteken het sonder om die inhoud daarvan behoorlik na te gaan en te verstaan nie. Die Hof sê daar is geen regsplig op die hospitaal om hierdie uitsluitingsklousule onder die pasiënt se aandag te bring nie en die pasiënt is gebonde aan die klousule asof hy dit gelees het en uitdruklik daartoe ingestem het (die alombekende beginsel “caveat subscriptor” wat beteken dat ‘n persoon versigtig moet wees voordat hy ‘n ooreenkoms teken is hier van toepassing).

Die Appèlhof bevind verder dat die pasiënt se eis gebaseer was op gewone nalatigheid en nie growwe nalatigheid nie en kan daar uitgekontrakteer word uit gewone nalatighied, selfs ook deur ‘n hospitaal. Indien growwe nalatighied beweer was sou die uitsluitingsklousule egter nie van toepassing gewees het nie.

Die pasiënt poog ook om te bewys dat die uitsluitingsklousule ongrondwetlik is in die sin dat dit teenstrydig is met elke persoon se reg op mediese behandeling maar ook hierdie argument word deur die Hof verwerp en toon die Hof aan dat hierdie klousule daarop dui dat die partye tot die kontrak moontlike nalatige optrede deur die hospitaal voorsien het en dat daar ooreengekom is dat daar geen regsaksie teen die hospitaal sal wees indien die hospitaal wel nalatig optree nie.

2. In die saak DURBAN’S WATER WONDERWORLD (EDMS) BPK vs BOTHA is Mev Botha en haar driejarige dogtertjie ernstig beseer tydens ‘n “jet ride” weens die wanfunksionering van die hidroliese sisteem. ‘n Regsaksie word teen die pretpark ingestel en die pretpark beroep hom op ‘n kennisgewing wat duidelik aangebring was bokant die betrokke kaartjiekantoor waar Mev Botha die kaartjies vir haar en haar dogter gekoop het. Hierdie kennisgewing bevat ook ‘n uitsluitingsklousule tot die effek dat die pretpark nie aanspreeklik is vir enige besering of skade voortspruitende uit ritte by die pretpark nie. Die Appèlhof beslis dat indien die bewoording van die vrywaringsklousule die betrokke party se aanspreeklikheid vir nalatige optrede duidelik en ondubbelsinnig uitsluit, moet daar aan gevolg gegee word en indien Mev Botha die kennisgewing gesien en gelees het, was daar instemming tot hierdie klousule en is sy en haar dogtertjie gebonde daaraan. Die vraag was of die pretpark redelike stappe geneem het om die betrokke kennisgewing onder besoekers se aandag te bring en die Hof bevind dat enige redelike persoon hierdie kennisgewing wat prominent aangebring was by die kaartjieskantoor sou kon waarneem en lees. Gevolglik kan die pretpark nie aangespreek word nie.

3. In ‘n onlangse Appèlhof saak van die JOHANNESBURGSE COUNTRY CLUB vs TODD EN ANDER moes die Appèlhof beslis of ‘n uitsluitingsklousule in die golfklub se reëls wat nalatigheid uitsluit ten opsigte van beserings of skade ook van toepassing is op die weduwee van ‘n lid van die klub wat gedood is deur weerlig. Mnr Todd was getref deur ‘n weerligstraal terwyl hy besig was om gholf te speel en Mev Todd het ‘n aksie ingestel op grond van die nalatigheid van die klub vir verlies aan onderhoud vir haarself asook die minderjarige kinders in ‘n bedrag van R5,9 miljoen rand. Die klub pleit onder andere dat Mev Todd se eis in terme van ‘n uitsluitingslousule in die klub se reëls waartoe lede hulle verbind verwerp moet word. Mev Todd voer aan dat die uitsluitingsklousule haar nie bind nie aangesien sy nie ‘n party daartoe was nie en dus nie bewus was van die klousule nie. Die Appèlhof bevind, gelukkig vir Mev Todd en haar kinders, uiteindelik dat die betrokke klousule nie betrekking het op enige eise van afhanklikes nie en dat dit nie duidelik en ondubbelsinnig genoeg in daardie verband is nie. Die klousule sluit nie hierdie tipe van eis uitdruklik uit nie.

Indien u ‘n besigheid bedryf, soos byvoorbeeld ‘n motorhawe, paneelklopper, droogskoonmakers, ens. waar lede van die publiek items laat is dit dus uiters belangrik om te verseker dat die uitsluitingsklousule volledig is en duidelik waarneembaar is op ‘n prominente plek ten einde enige argumente of ‘n redelike persoon dit sou waarneem, te vermy. Indien u ‘n lid van die publiek is moet u op die uitkyk wees vir uitsluitingsklousules en telkens u risiko’s oorweeg voordat u daartoe instem. Dit is raadsaam om eers regsadvies in te win alvorens u ‘n ooreenkoms teken waarin ‘n uitsluitingsklousule voorkom aangesien dit baie kostes en verdriet kan vermy.

image_pdfSave as PDF