Wat is die belangrikste regsbeginsels ten opsigte van die aanspreeklikheid van beheerliggame en openbare skole?

< Back
You are here:
Print

Indien ‘n leerder van ‘n openbare skool tydens opvoedkundige aktiwiteite by ‘n skool beseer word as gevolg van die nalatigheid van ‘n onderwyser, is die vraag wie aanspreeklik sal wees vir die skade of verliese wat so ‘n leerder as gevolg van die nalatige optrede van die onderwyser opgedoen het.

Artikel 60(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 bepaal die volgende :

* “1.  Die Staat is aanspreeklik vir enige skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur ‘n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het, by gebreke aan die bepalings van hierdie artikel.
* 2(3) Enige eis weens skade verlies in subartikel (1) beoog moet teen die betrokke lid van die Uitvoerende Raad (van die Departement van Onderwys) ingestel word.
Artikel 20(4) – van die Skolewet, gee aan die beheerliggaam van ‘n openbare skool magtiging om onderwysers aan te stel en in diens te neem bykomstig tot die diensstaat van die Departement, en sodanige beheerliggaamsposte word ook deur die beheerliggaam van die openbare skool gefinansier.

Daar was onlangs ‘n hofgeding in die Oranje-Vrystaat se Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, te wete Louw en Ander vs die LUR vir Onderwys en Kultuur in die Vrystaat en as tweede Verweerder die spesifieke skool en sy beheerliggaam.
Hierdie saak het voortgespruit uit ‘n voorval wat in 2000 te Ficksburg Laerskool gebeur het.  Die leerder (‘n seun) het breinskade opgedoen as gevolg van byna verdrinking.  Die Eiser se regsverteenwoordigers het aangevoer dat die skade veroorsaak is as gevolg van die uitsluitlike nalatigheid van ‘n personeellid van die skool alternatiewelik ‘n opvoeder wat in diens was van die Departement van Onderwys alternatiewelik in diens was van die beheerliggaam van die openbare skool alternatiewelik in diens van die Departement van Onderwys en die beheerliggaam van die openbare skool was en, dat hierdie nalatigheid gebeur het in die uitvoering van haar normale dienste by die spesifieke openbare skool.

Die Departement van Onderwys in die Vrystaat se verweer was dat die Departement nie aanspreeklik is ingevolge Artikel 60(1) van die Skolewet nie omrede hierdie persoon nie ‘n opvoeder was tydens die voorval soos gedefinieer in die Wet nie.  Die argument van die Departement was dat die beheerliggaam van die skool aanspreeklik is omrede die beheerliggaam die onderwyser aangestel het.

Die tweede Verweerder, te wete die beheerliggaam van die skool, se argumente was in kort die volgende

1. Die voorval het plaasgevind tydens verpligte opvoedkundige bedrywighede waaraan die spesifieke seun deelgeneem het en dat dit ‘n opvoedkundige aktiwiteit was wat deur die skool aangebied is soos bedoel in Artikel 60 van die Wet.
2. Die eis teen die beheerliggaam van die skool is derhalwe vir skade en verlies wat veroorsaak is as gevolg van ‘n daad of versuim in verband met ‘n opvoedkundige aktiwiteit.
3. Indien so ‘n eis sou slaag, sou die skool aanspreeklik gewees het vir die skade en verlies was dit nie vir die bepalings van Artikel 60 van die Wet wat bepaal dat die Staat aanspreeklik is nie.
4. Die beheerliggaam van die skool het dus aangevoer dat die Staat naamlik, die Onderwys Departement van die Vrystaat, aanspreeklik was vir die skade of verlies van die Eiser en nie die Beheerliggaam van die skool nie.

Die hof het in hierdie saak slegs ‘n beslissing gemaak oor wie aanspreeklik sou wees en die vraag of iemand aanspreeklik sou wees, sou eers op ‘n later stadium gevra word, naamlik of die onderwyseres werklik nalatig was.  Wat dus belangrik in hierdie saak vir ons kliënte is, is die vraag wie aanspreeklik is as ‘n onderwyser wat deur die beheerliggaam aangestel word in ‘n tydelike pos en ‘n leerder van die skool beseer word en skade gely het.

Die hof het beslis dat die bepalings van Artikel 60(1) soos hierbo uiteengesit, ‘n sambreel-bepaling is wat daarop gerig is om aanspreeklikheid by die Staat te vestig in die omstandighede waarna in die Artikel verwys word.  Opvoeding in ‘n openbare skool is ‘n staats verantwoordelikheid.  Daarom het die wetgewer op die staat verantwoordelikheid geplaas vir skade of verlies wat veroorsaak is as gevolg van ‘n daad of versuim wat voortspruit uit ‘n opvoedkundige aktiwiteit by ‘n openbare skool.  Die aanstelling en vergoeding van opvoeders deur ‘n beheerliggaam dra die goedkeuring van die Staat weg, soos in Artikel 20(4) hierbo bepaal word en dit is tot voordeel en hulp van die Staat in sy opvoedingfunksie.  Op ‘n korrekte uitleg daarvan stel Artikel 60(1) van die Skolewet uitsluitlike aanspreeklikheid van die Staat daar en is die Artikel in wye terme gegiet om te verhoed dat openbare skole en hulle beheerliggame aanspreeklik gehou word vir skade wat voortspruit uit ‘n opvoedkundige aktiwiteit wat deur so ‘n skool bedryf word.  Die Staat is dus uitsluitlik aanspreeklik vir skade en verlies wat gely word as gevolg van ‘n daad of versuim wat deur ‘n personeellid van ‘n openbare skool wat ingevolge Artikel 20(4) van die Skolewet deur sy beheerliggaam aangestel is.

Skole en hulle beheerliggame sal dus in die toekoms seker moet maak.  Indien daar as gevolg van nalatigheid deur ‘n onderwyser wat deur die beheerliggaam aangestel word, skade gely word deur ‘n leerder, dat die betrokke aktiwiteite, opvoedkundige aktiwiteite is.  In so ‘n geval behoort die beheerliggaam dus nie aanspreeklik te wees nie.

image_pdfSave as PDF