Wat beteken die beginsel dat die herstel van besit by ‘n grondeis ekonomies vatbaar moet wees?

Last Updated On December 20, 2018

BAPHIRING COMMUNITY v UYS & OTHERS 2010 (3) SA 130 (LCC)

Hierdie hofuitspraak is deur die Grondeise hof gelewer waar Regter Geldenhuys en Waarnemende Regter Mia tesame met ‘n assessor by name Wiecher ‘n aangeleentheid aangehoor het oor ‘n grondeis in terme van die Restitution of Land Rights Act 22 van 1994 ingestel en die eis reeds aanvaar is as ‘n geldige grondeis.

By hierdie geleentheid moes die Hof beslis of die herstel van besit aan die gemeenskap ekonomies vatbaar en in die belang van geregtigheid is in terme van Artikel 33 van die Wet waarna ek hierbo verwys het.

Die Hof het na al die omstandighede gekyk en beslis dat op die datum waartydens die gemeenskap wat uit ongeveer 400 huishoudings bestaan het, van die land verwyder is, was daar weinig, indien enige, infrastruktuur en/of boerdery-aktiwiteite wat daar plaasgevind het.  Die waarde van die plaas, wat ook bekend gestaan het as Rosmincol tydens die verwydering van die gemeenskap deur die staat, was ‘n druppel in die emmer van wat die waarde huidiglik is.

Dit was nie in geskil geplaas dat die plaas Rosmincol ontwikkel is in ‘n kommersiële boerdery nie.  Die gesamentlike landbou produksie wat die eienaars van die grond jaarliks tevore gebring het, was ongeveer 1 800 kalwers, 5 900 ton mielies, 400 ton boontjies, 470 ton sonneblomsaad en 1 080 000.00 liters melk.

Die gemeenskap is in 1971 vanaf die grond waarop hul die eis ingestel het verwyder en is hul hervestig by ‘n gedeelte wat bekend gestaan het onder die gemeenskap as die nuwe Mabaalstad wat ongeveer 17 160 ha beslaan het.

Die getuienis was dat gedurende die tyd wat die Baphiring stam daar gewoon het, daar op ‘n baie klein skaal geboer is en is enige surplus produkte in die omliggende gedeeltes verkoop.  Van die lede van die gemeenskap het selfs in Johannesburg en ander dorpe en stede gewerk.  Die huise was maar bouvallig en was gemaak van kleistene en sand wat vanaf die rivierbed gekry is.  Die dakke was van gras en hout wat van die land af bymekaar gemaak is. Die inwoners het water vanaf die rivier bekom vir persoonlike gebruik.  In hierdie verhoor is daar verskeie deskundiges geroep om te getuig vir beide kante en alhoewel ek nou nie met almal wil handel nie, kan ek dalk meld dat van die belangrikstes was die van mev Visser ‘n sosiale werker was, betrokke by vastellings in die sosiale, konsultasies en monitering van uitsettings sedert 1990.  ‘n Tweede belangrike deskundige aanslag was mnr Antrobus.  Mnr Antrobus was ‘n projek evalueerder wat gespesialiseer het in ekonomiese vatbaarheidstudies.  Mnr Jacques van der Merwe wat ‘n stads-en streeksbeplanner is, het ook namens die gemeenskap getuig.

Namens die eienaars het verskeie deskundiges getuig, onder andere waardeerders, asook landboukundiges.

Vir die skrywer was die belangrikste getuie eerder mnr Gama, wat ‘n beampte was van die Provinsiale Grondeisekommissaris, wie se verantwoordelikheid die hervestiging van gemeenskappe in die Noordwesprovinsie ingesluit het.  Mnr Gama se getuienis het ‘n uitgebreide verduideliking gegee van die finansiële ondersteuning wat benodig word en wat beskikbaar is vir die hervestiging van gemeenskappe.  Hy het aangedui dat die fondse wat beskikbaar is, ‘n bedrag van R6 595.00 per huishouding is.  In byvoeging tot die voormelde getuienis was daar ook die moontlikheid dat hul ‘n ontwikkelingsbystand kan ontvang gelykstaande aan 25% van die totale waarde van die grond wat R70 miljoen beloop het. Mnr Gama het egter aangedui dat daar nog nie so ‘n bystand toegeken is in die Noordwesprovinsie nie.  Mnr Gama het getuig dat hy ongeveer 330 projekte soortgelyk aan hierdie een in die Noordwesprovinsie hanteer.  Hy kon nie ‘n enkele voorbeeld gee van een wat suksesvol hanteer is in die provinsie nie.  Die problematiek wat hy uitgelig het, was die tekort aan ondervinding en deskundigheid, ‘n tekort aan strategiese vennote.  Hy het egter bevestig dat die grootste tekortkoming die beskikbaarheid van fondse is en die tekort aan vaardighede om kommersiële boerdery voort te sit.

Nadat die Hof die kostes in ag geneem het van wat benodig sal word om die eienaars van Rosmincol te vergoed, die finansiële bystand wat die gemeenskap sou benodig om die kommersiële boerdery voort te sit, die tekort aan ondervinding en vaardighede, asook die feit dat die Departement van Grondsake nie ‘n enkele sukses verhaal voor die Hof kon lê nie, het die Hof bevind dat dit nie ekonomies vatbaar en in die belang van die breë gemeenskap kan wees om die gemeenskap te hervestig op die grond wat hul geëis het nie.

Die Hof het bevind dat die nuwe Mabaalstad waar hul tans woonagtig was, voldoende is en reeds behoorlike akkommodasie verskaf wat verbeter kan word met die bystand van die Staat, wat nie ‘n druppel in die emmer sal wees van wat die kostes sal beloop indien hul hervestig word op Rosmincol nie.

Die Hof het dus ‘n bevel gemaak dat die gemeenskap deur die Staat op alternatiewe wyses vergoed moet word, in stede daarvan om hul te hervestig op Rosmincol.  Dit selfs nadat ene mnr Prinsloo, wat een van die eienaars van die plase was, hulp aangebied het en sy bereidwilligheid uitgespreek het om indien hul hervestig word, as projekbestuurder en mentor op te tree.

Die Hof het in hierdie uitspraak geen geheim daarvan gemaak dat kommersiële boerdery in Suid-Afrika ten alle kostes beskerm moet word en dat Suid-Afrika dit bloot net nie kan bekostig om verdere kommersiële boerdery te verloor nie, veral nie teen die agtergrond van die onsekerhede wat bestaan rakende voedselsekerheid op die Afrika kontinent nie.

Ek dink regtig dat hierdie ‘n uiters gunstige en gerusstellende uitspraak is en dat dit waarlik ‘n stap in die regte rigting deur die Grondeisehof was indien die breë gemeenskap in ag geneem word.  Die Hof het ook op hierdie noot daarna verwys na die feit dat daar letterlik miljoene rande spandeer word aan die hervestiging van gemeenskappe en dat daardie geld wat beskikbaar gestel word uit die belastingbetaler se sak gegenereer word.