Wat bepaal die die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum 2001, Wet 38 van 2001?

< Back
You are here:
Print

Hierdie Wet het uiters belangrike implikasies vir al ons kliënte, en die doel van hierdie bydrae is om kliënte attent te maak omtrent die belangrikste bepalings van die Wet.

Die Wet is in verskillende fases in werking gestel. Die rapporteringsplig uit hoofde van Artikel 29 van die Wet waarna hieronder verwys word het reeds op 3 Februarie vanjaar in werking getree, en die identifiserings- asook verifiëringsplig waarna in meer besonderhede hieronder verwys word, tree op 30 Junie vanjaar in werking.

In die lang titel van die Wet (wat die doel van die Wet uitspel) word gesê dat dit die instelling van ‘n Finansiële Intelligensiesentrum en ‘n Geldwassery-adviesraad ten doel het met die oog daarop om geldwassery-aktiwiteite te bekamp. As u by die lees hiervan verdere belangstelling sou verloor omdat u nie by geldwassery-aktiwiteite betrokke is nie, maak u ‘n ernstige fout. Die Wet het ingrypende implikasies vir selfs die mees eerbare lede van ons samelewing. Lees dus met aandag verder.

Met die instel van hierdie Wet, wat inskakel by die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Wet 121 van 1998 (hierna genoem die Voorkomingswet), en saam met die Voorkomingswet die statutêre raamwerk daarstel vir die bekamping van georganiseerde misdaad en geldwassery-aktiwiteite, skaar Suid-Afrika hom by die meeste ontwikkelde lande. Wêreldwyd is daar ‘n neiging en aandrang om soortgelyke statutêre maatreëls op die wetboek te plaas, en lande wat dit nie doen nie, sal al meer uitgesluit word van beleggingsgeleenthede en die hoofstroom wêreldekonomie.

Hoofstukke 3 en 4 van die Finansiële Intelligensiesentrum Wet is eintlik vir ons en ons kliënte van belang.

Hoofstuk 3 handel met die plig van sekere instansies om kliënte te identifiseer, om daardie identifisering te verifiëer, daardie verifiëeringsinligting te bewaar vir ‘n voorgeskrewe minimum tydperk en om sekere verdagte en ongewone transaksies te rapporteer.

Die Wet bevat ‘n lang lys van instansies (in die Wet genoem verantwoordingspligtige instellings) wat die voormelde verpligtinge moet nakom. Onder andere is dit prokureurs, aandelemakelaars, eiendomsagente, trustees van inter vivos trusts, versekeringsmakelaars betrokke by lewensversekeringsbesigheid en almal wat beleggingsadvies gee of beleggingsmakelaarsdienste bedryf. Dit sluit selfs ouditeurs in wat laasgenoemde tipe dienste verskaf. Selfs motorhandelaars sal later transaksies bokant ‘n sekere waarde, ingevolge waarvan motorvoertuie kontant by hulle aangekoop word, aan die Intillegensiesentrum moet rapporteer. Hierdie bepaling is egter nog nie in werking gestel nie. Vir tyd en wyl kan motorhandelaars dus ontspan. Ook banke is verantwoordingspligtige instellings.

Vanaf 30 Junie moet al die verantwoordingspligtige instellings op wie die Wet van toepassing is, kliënte op ‘n voorgeskrewe wyse identifiseer en hulle bestaan verifiëer. Daar is gedetailleerde voorskrifte in die Wet se regulasies oor die wyse waarop dit moet geskied. In die geval van natuurlike persone moet byvoorbeeld ‘n afskrif van die persoon se identiteitsdokument bekom word, moet die persoon se adres verkry en bevestig word en moet selfs die persoon se inkomstebelastingverwysingsnommer bekom word. Die korrektheid van hierdie nommer moet ook bevestig word aan die hand van ‘n amptelike dokument wat deur SARS uitgereik is. Dit is dus nie goed genoeg om slegs die nommer by die kliënt te bekom nie – die nommer moet inderdaad bevestig word.

In die geval van regspersone soos maatskappye, trusts en beslote korporasies, moet ook afskrifte van die stigtingsdokumente sowel as besonderhede van die direkteure, lede en/of trustees bekom word sowel as die entiteit se inkomstebelastingsverwysingsnommer. Al hierdie besonderhede moet ook bevestig word.

Die regulasies bepaal ook spesifiek dat geen verantwoordingspligtige instelling ‘n besigheidsverbintenis met ‘n kliënt mag aanknoop wat dit onder ‘n vals naam doen nie. In die lig van die identifiserings- en verifiëeringsverpligtinge wat die Wet skep, sal dit ook nooit ‘n verskoning wees as dit sou blyk dat ‘n kliënt ‘n vals naam aan die verantwoordingspligtige instelling voorgehou het nie.

Wees dus asseblief na 30 Junie geduldig as u vir hierdie besonderhede gevra word. Dit spruit nie uit ons wispelturigheid of vitterigheid nie, maar uit ‘n statutêre plig wat ons het. Die Wet skryf baie swaar strawwe voor vir versuim om hieraan te voldoen – ‘n maksimum boete van R10 miljoen of 15 jaar gevangenisstraf. U sal verstaan dat ons nie in die aangesig van sulke swaar strawwe ligtelik met ons verpligtinge sal kan omgaan nie.

Die skerpste angel van die Wet is egter geleë in Artikel 29 daarvan, en die bepalings hiervan behoort elke denkende persoon te laat regop sit. Artikel 29 plaas ‘n plig op elke verantwoordingspligtige instelling om verdagte of ongewone transaksies aan die intelligensiesentrum te rapporteer. Hierdie verslagdoeningsplig moet nagekom word wanneer ‘n verantwoordingspligtige instelling weet of vermoed dat ‘n verdagte of ongewone transaksie waarby sy besigheid of praktyk betrokke is, gesluit word.

Om te bepaal wanneer ‘n verantwoordingspligtige instelling iets daadwerklik geweet het, is dit belangrik om te kyk na Artikel 1(2) van die Wet. Hier word gesê dat ‘n persoon kennis het van ‘n feit as hy werklike kennis van daardie feit het (wat natuurlik logies is), maar ook wanneer ‘n hof daarvan oortuig is dat die persoon van mening is dat daar ‘n redelike moontlikheid is dat daardie feit bestaan en die persoon versuim het om inligting te bekom om die bestaan van daardie feit te bevestig of te weerlê. Dit is dus nie ‘n verskoning om volstruispolitiek te bedryf en eenkant toe te kyk by toepassing van die Wet nie.

In Artikel 1(3) van die Wet word gehandel met die vraag wanneer iemand geag word iets te vermoed het of iets moes vermoed het. Die Wet sê in hierdie verband dat ‘n persoon geag word redelikerwys kennis of ‘n vermoede van ‘n feit te gehad het indien die gevolgtrekkings waartoe hy of sy behoort te geraak het, diè is waartoe ‘n redelik sorgsame en opmerksame persoon behoort te geraak het wat beskik oor

– die algemene kennis, vaardigheid, opleiding en ondervinding wat redelikerwys verwag kan word van ‘n persoon in sy of haar posisie; en

– die algemene kennis, vaardigheid, opleiding en ondervinding wat hy of sy in der waarheid het.

Dit is voorwaar ‘n hele mondvol. Byvoorbeeld ‘n prokureur kan hom dus nie dom hou by die beoordeling en uitvoering van sy verpligtinge ingevolge die Wet nie. Die bepalings van Artikels 1(2) en 1(3) maak dit vir hom onmoontlik om hom oningelig en onkundig te hou en daarmee te probeer wegkom.

Die spesifieke omstandighede waarin Artikel 29 dan ‘n rapporteringsplig laat ontstaan, is wanneer die verantwoordingspligtige instelling weet of vermoed dat

– die betrokke onderneming die opbrengs van onregmatige aktiwiteite ontvang het of op die punt staan om dit te ontvang, of die onderneming op enige wyse vir geldwassery-doeleindes gebruik is of op die punt staan om daarvoor gebruik te word. Die Wet bepaal dat “onregmatige aktiwiteite” en die “opbrengs van onregmatige aktiwiteite” dieselfde betekenis het as in die Voorkomingswet. Geldwassery word omskryf as onder andere enige aktiwiteit wat die uitwerking het of waarskynlik sal hê om die aard, bron, ligging, beskikking of beweging van die opbrengs van onregmatige aktiwiteite of enige belang in die opbrengs daarvan, te verberg of te verbloem. Dit is nie nodig om vir doeleindes van hierdie artikel hierdie aspekte verder te ontleed en uit te rafel nie. Kliënte kan, as hulle dit nodig ag, by ons aanklop vir verdere advies in hierdie verband. Die meeste mense het darem ‘n redelike goed ontwikkelde aanvoeling omtrent wat geldwassery asook onregmatige aktiwiteite en die opbrengs daarvan is.

– die betrokke onderneming betrokke is by ‘n aangeleentheid wat een of meer van die volgende behels

………o die oordrag van die opbrengs van onregmatige aktiwiteite vergemaklik het of …………dit waarskynlik sal vergemaklik;

………o geen klaarblyklike besigheids- of wettige doel dien nie;

………o tersaaklik kan (let wel : nie noodwendig is nie) wees by die ondersoek van ‘n …………ontduiking of poging tot ‘n ontduiking van ‘n plig om enige belasting, reg of …………heffing te betaal wat opgelê is by wetgewing wat deur die Kommissaris vir die …………Suid-Afrikaanse Inkomstediens geadministreer word.

Dit is veral laasgenoemde aspek waarvan kliënte deeglik kennis moet neem. Die omvang en impak hiervan is werklik wesenlik en gaan talle kliënte ten seerste raak. By ‘n ontleding van hierdie bepaling sal ook opgemerk word dat die transaksie met betrekking waartoe die rapporteringsplig ontstaan nie noodwendig die daadwerklike ontduiking van ‘n belastingplig hoef te behels nie, maar slegs tersaaklik hoef te wees met betrekking tot die ondersoek van enige ontduiking van so ‘n plig. Die impak is dus werklik baie wyd.

Onthou ook dat die verantwoordingspligtige instelling nie kan bekostig om eenkant toe te kyk en inligting waarvan hy weet of behoort te weet kan verontagsaam ter wille van sy kliënt nie. Dit kan slegs gedoen word op die risiko af van ‘n boete van R10 miljoen of 15 jaar gevangenisstraf. Dit is seker te ‘n hoë prys wat ‘n kliënt van sy prokureur, ouditeur of versekeringsmakelaar, om maar ‘n paar voorbeelde te noem, kan vra.

Wat ook belangrik is, is dat die verantwoordingspligtige instelling wat ‘n transaksie rapporteer, dit nie eers aan enige persoon mag rapporteer nie met inbegrip van ‘n persoon wat aldus gerapporteer is. Alles vind onder die dekmantel van vertroulikheid plaas en die verantwoordingspligtige instelling word ook spesifiek kragtens Artikel 38 van die Wet gevrywaar teen enige strafregtelike of sivielregtelike aanspreeklikheid as hy enige verpligting kragtens die Wet in goeie trou nagekom het.

Die blote feit dat ‘n transaksie of ‘n persoon gerapporteer word, beteken natuurlik nie noodwendig dat daardie persoon skuldig is of onregmatig gehandel het nie. Moontlik kan die persoon ‘n behoorlike verduideliking gee. Feit is egter dat, as die Wet behoorlik geadministreer en afgedwing sou word, die Finansiële Intelligensiesentrum wat ingevolge die Wet tot stand gebring is, op ‘n deurlopende grondslag voorsien sal word van inligting wat geldwassery en belastingvermyding minstens baie moeiliker as in die verlede, indien nie heeltemal onmoontlik nie, sal maak.

In die algemeen moet kliënte ook verwag dat die ontvangs en verskuiwing van kontantbedrae met indringende vrae begroet sal word en, behalwe vir banke, die ontvangs van kontantbedrae ontmoedig sal word.

‘n Kliënt wat sy prokureur, ouditeur of enige ander raadgewer wat ‘n verantwoordingspligtige instelling ingevolge die Wet is of daaraan verbonde is, betrek by enige van die aangeleenthede na verwys in paragraaf 16, sal hopelik besef dat hy daardie adviseur in ‘n werklik onmoontlike posisie plaas. Die adviseur kan nie anders as om hom ingevolge die Wet te rapporteer nie.

Ten slotte moet kliënte daarvan kennis neem dat alle verantwoordingspligtige instellings ook interne reëls moet formuleer en moet implimenteer, en vir die doel ook opleiding aan sy werknemers moet bied betreffende toepassing van die Wet. Hieroor word in meer besonderhede elders in hierdie nuusbrief berig.

image_pdfSave as PDF