Kan ‘n lid persoonlik aanspreeklik gehou word waar hy ‘n BK bedrieglike bestuur ?

< Back
You are here:
Print

Beginselvraag:

In hierdie saak moes die Hoogste Hof van Appél beslis oor die persoonlike aanspreeklikheid van die lede en verteenwoordigers van ‘n beslote korporasie (“BK”) waar die sake van die BK op ‘n bedrieglike wyse bedryf is.

Feite:

Die eisers, Airport Cold Storage (Edms) Bpk het vir etlike maande vleis aan ‘n sekere BK voorsien.  Die BK se bestellings by die eiser en alle onderhandelinge in dié verband is te alle relevante tye hanteer deur ‘n mnr. Nizaar Ebrahim wat ook die enigste lid van die BK was, en sy pa, mnr. Abbas Ebrahim.

Aanvanklik het die BK getrou die eisers se rekenings betaal, maar na ‘n rukkie het hulle al hoe verder agterstallig geraak.  Toe die uitstaande balans op ‘n stadium R278000,00 bedra het, het die eisers besluit dat hulle nou regstappe gaan neem.  Hulle dagvaar toe die BK wat uiteindelik gelikwideer word.  Na die likwidateur se ondersoeke blyk dit dat die BK oor geen beslagbare bates beskik nie behalwe R254.00 kontantgeld.

Uit die ondersoek blyk verder meer ook die volgende:

1. Die BK het nooit enige rekeningkundige rekords gehou nie.
2. Die BK het geen rekeningkundige beampte gehad nie.
3. Geen BTW-opgawes is deur die BK ingedien nie.
4. Die skulde van ‘n ander BK waarvan die pa die alleen lid was, is na hierdie BK oorgedra.
5. Die besigheid van die BK het in ‘n paar maande se tyd fakture van oor die R1.800. 000,00 aan hulle kliënte gelewer.

Regsvraag:

Moet die eisers met leë hande uit die stryd tree?  Kan die eisers dalk die enigste lid van die BK, mnr. Nizaar Ebrahim, persoonlik aanspreeklik hou?  Wat van sy pa, mnr. Abbas Ebrahim?

Uitspraak:

Die Hoogste Hof van Appél kom tot die slotsom dat beide die pa en die seun persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die skulde van die BK.  Die eisers kan dus die volle uitstaande rekening van die BK vanaf hulle verhaal.

Die algemene beginsel is dat ‘n lid of verteenwoordiger van ‘n BK nie persoonlik aanspreeklik is vir die skulde van die BK nie: die BK is ‘n afsonderlike regspersoon.

Op hierdie algemene reël bestaan daar egter ‘n paar uitsonderings.  Een daarvan is waar ‘n lid of verteenwoordiger borg teken namens die BK.  Waar die BK dan versuim om te betaal, is daardie borg wel persoonlik aanspreeklik vir die skulde waarvoor hy borg geteken het.

Verdere uitsonderings word deur die Wet op Beslote Korporasies daargestel:

1. Artikel 63(h) (versuim om ‘n rekeningkundige beampte vir die BK te hê).
2. Artikel 64 (misbruik van die BK se regspersoonlikheid).
3. Artikel 65 (roekelose en/of bedrieglike bestuur van die BK se sake).

In hierdie geval het die eiser op al drie die artikels staatgemaak.  Die hof het egter dit slegs nodig gevind om artikel 65 toe te pas.  Op die feite kom die hof tot die gevolgtrekking dat die BK slegs ‘n rookskerm was wat op ‘n bedrieglike wyse deur beide die lid sowel as sy pa as verteenwoordiger van die BK gebruik is om tot nadeel van die skuldeisers die aanspreeklikheid vir skulde te manipuleer.

Albei pa en seun word dus op grond van artikel 65 persoonlik aanspreeklik gehou vir die eiser se eis teen die BK.

Les en praktiese advies:

Uit hierdie saak blyk weer die volgende beginsels.

Waar iemand ‘n besigheid begin, is dit uit ‘n risikobestuursoogpunt ‘n goeie idee om dit in die naam van ‘n BK te doen en om dan verder die ondertekening van borgstellings te vermy.  As daardie besigheid skeefloop, selfs waar daar sprake van nalatigheid was (solank dit nie bedrieglik, roekeloos of grof nalatig was nie), kan die lid of ander verteenwoordiger van die BK nie persoonlik aanspreeklik gehou word vir sy skulde nie.

In dié verband sou die oprigting van ‘n familietrust ‘n verdere opsie wees om waardevolle nie-riskante bates teen skuldeisers te beskerm.

Waar ‘n besigheid aan die anderkant goedere of dienste op krediet verskaf aan regspersone, soos ‘n BK, ‘n maatskappy of ‘n trust, is dit belangrik om te sorg dat ‘n behoorlike kredietaansoekvorm ingevul word deur die debiteur waarin onder andere vir ‘n borgstelling deur lede, aandeelhouers, direkteure, alternatiewelik trustees, voorsiening gemaak word.  Sodoende sal daardie borge dan persoonlik aanspreeklik gehou kan word waar die regspersoon nie betaal nie wat oor die algemeen die kanse van suksesvolle verhaling aansienlik vergroot.

Waar ‘n BK nie sy skulde betaal nie en daar geen borgstellings is, moet die feite ondersoek word ten einde te bepaal of die skuldeisers dalk op grond van artikel 63(h), artikel 64 of artikel 65 van die Wet op Beslote Korporasies ‘n lid of verteenwoordiger van die BK persoonlik aanspreeklik kan hou.

image_pdfSave as PDF