Is internetdobbelary wettig waar die besigheid vanuit Swaziland bedryf word?

< Back
You are here:
Print

CASINO ENTERPRISES (PTY) LTD (SWAZILAND) V GAUTENG GAMBLING BOARD AND OTHERS

In ‘n onlangse beslissing deur die Noord Gauteng se Hoë Hof, is ‘n regsbeginsel getoets ten opsigte van internetdobbelary.

Die feite van die aangeleentheid was dat ‘n Casino, in Swaziland geleë, internet-dobbelfasiliteite en bedrywighede in Suid-Afrika bedryf.

Die aangeleentheid het in 2004 reeds ‘n aanvang geneem toe die Casino verskeie advertensies rakende hulle aanlyn-dobbelaktiwiteite bemark het op verskeie radiostasies.  Die Gauteng Dobbelraad het toe die radiostasies aangemaan om nie verdere advertensies uit te saai nie en ook ‘n vergadering met die Casino eienaars belê.  Die Gauteng Dobbelraad het van meet af aangedui dat hul van mening is dat die dobbelaktiwiteite plaasvind waar die speler en sy rekenaar gestasioneer is.  Die Casino eienaars het die teendeel beweer deur te sê dat die dobbelaktiwiteite plaasvind in Swaziland, aangesien dit is waar die rekenaartoerusting geleë is en dat daardie Casino wel ‘n lisensie het om sodanige bedrywighede te voltrek.

Die eienaars van die Casino het toe in Oktober 2004 reeds ‘n aansoek na die Hof geloods om ‘n verklarende bevel in hierdie verband te kry.  Uitsluitsel is ook vanaf die Hof versoek tot die effek dat die dobbelaktiwiteit inderdaad in Swaziland plaasvind, alhoewel die speler en sy rekenaar in Suid-Afrika mag wees.  Die aangeleentheid is later na verhoor verwys en verskeie deskundiges het op die gebied getuig.

‘n Belangrike aspek wat in ag geneem was, was of die spel ‘n interaktiewe spel is al dan nie.

Die hoofgeskilpunt was of die speler wat in Gauteng is inderdaad via die internet wisselwerking het met die Casino wat in Swaziland geleë is, en, indien wel, of dit dan dobbelary in terme van ons Provinsiale en Nasionale wetgewing daarstel.

Sonder om na al die tegniese aspekte hiervan te verwys, het die Hof aan die einde van die dag tot die gevolgtrekking gekom dat die dobbelaktiwiteit inderdaad plaasvind daar waar die speler en sy rekenaar hul bevind.

Die probleem hiermee is dat die Provinsiale Wetgewing voorsiening daarvoor maak dat alle persele ten opsigte waar dobbelaktiwiteite plaasvind, gelisensieerd moet wees.  Dit het dus tot gevolg dat indien ‘n speler byvoorbeeld by sy kantoor aanlyn dobbel, hy ‘n permit en/of lisensie sal moet verkry ten opsigte van sy kantoor.

Die Hof het ook gaan gekyk na die negatiewe invloed en uitwerking wat dobbelary mag hê.  Die Hof het verwys na die risiko wat deur dobbelary voortgebring word, veral ten opsigte van individue wat vatbaar is vir verslawing daaraan.  Die Hof het ‘n lang verduideliking gegee van die risiko en gevolge wat sodanige verslawing op so ‘n persoon mag hê en ook veral ten opsigte van sy familie.  Die Hof het ook aangedui dat dit onaanvaarbaar is dat buitelandse maatskappye die voordeel verkry deur ‘n aandeel in die plaaslike dobbelmark te verkry sonder om infrastruktuur en werksgeleenthede hier te skep.

Die Hof dui verder aan dat hy van mening is dat die skrywer van die Wet se bedoeling nooit was om met al die tegniese aspekte te deel nie, maar het weereens verwys na die doel waarmee die Wet geskryf is, en dit is om individue te beskerm teen die gevare wat dobbelary mag inhou.  Die Hof het daarna tot die gevolgtrekking gekom dat sodanige aktiwiteite onwettig is aangesien die dobbelaktiwiteit inderdaad in Suid-Afrika plaasvind en dit nie voldoen aan plaaslike wetgewing nie.

Die gevolg van hierdie uitspraak is sodoende dat alle aanlyn dobbelary onwettig is vir alle praktiese doeleindes.  Hoe die Dobbelraad dit gaan voorkom en regsgedinge gaan neem, is ‘n ander vraag wat ek nie die antwoord voor het nie, maar tyd sal ons seker in hierdie verband leer.

Dit is wel duidelik dat die Dobbelraad die bemarking van sodanige aanlyn dobbelary sal beperk en voorkom, sovêr as wat dit vir hul moontlik is.

image_pdfSave as PDF