Wanneer kan ʼn eksekuteur van sy amp onthef word?

< Back
You are here:
Print

Die beslissing van Van Niekerk v Van Niekerk 2001 (2) SA 145 in die Hooggeregshof van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg gee ʼn interessante voorbeeld van wat die kriteria is om hierdie vraag te beantwoord.

Feite:

Die oorledene, Basil van Niekerk, kom op 11 Desember 2009 tot sterwe. Hy word oorleef deur sy vrou, Elena van Niekerk. In terme van ʼn testament gedateer 4 Desember 2009 stel hy sy voormalige vrou, Cathleen van Niekerk, van wie hy op 8 Oktober 1987 geskei is aan as eksekutrise en enigste erfgenaam.

Elena dien twee eise teen die boedel in. Die eerste een is gebaseer op die huwelik binne gemeenskap van goedere waarvolgens sy die helfte van die boedel eis en die tweede eis is vir onderhoud gebaseer op die Wet op Onderhoud van die Langslewende Gade, 27 van 1990. Daarvolgens wil sy R17 175 per maand onderhoud hê, terwyl Cathleen as eksekutrise slegs R3 500 aanbied. Uit die feite voor die Hof blyk dit ook dat daar ʼn dispuut is oor of Elena inderdaad met die oorledene getroud is op 2 Augustus 2005 in Volgograd, Rusland, alternatiewelik in Suid-Afrika op 9 November 2008. Dit blyk ook dat Elena baie jonger as die oorledene is en inderdaad ook sy vierde vrou is nadat hy in 1987 van Cathleen geskei is.

Die Hof bevind dat die getuienis voor hom wys dat Cathleen inderdaad botsende belange het as eksekutrise en dat sy deur haar optrede dit duidelik gemaak het dat sy nie objektief en onafhanklik die sake van die boedel hanteer het nie soos ʼn eksekutrise veronderstel is om te doen. Sy het inderdaad, volgens die Hof, uit haar pad gegaan het om alle eise teen die boedel te ontken ongeag die meriete daarvan en sonder billike oorweging daarvan. Dit, sê die Regter, is goeie gronde vir die verwydering van haar as eksekutrise. Hy maak dus inderdaad ʼn bevel tot daardie effek.

Gevolgtrekking:

Dit gebeur dikwels dat familielede van die oorledene as eksekuteure aangestel word. Waar daar ander familielede, soos kinders uit ʼn vorige huwelik of geskeide gades, erfgename of eisers van die boedel is, lei dit dikwels tot spanning. Onder sulke omstandighede is dit dus dikwels wys om die aanstelling van ʼn onafhanklike eksekuteur te oorweeg.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF