Kan die langslewende gade haar adiasie van die gesamentlike testament, wat vir boedelsamesmelting voorsiening maak, terugtrek?

< Back
You are here:
Print

Hierdie vraag het in die volgende beslissing ter sprake gekom, naamlik Le Roux and Another v Ontvanger van Inkomste and Another (6008/08) [2009] ZAFSHC 27 (12 March 2009).

Feite:

Die applikant is ʼn 85 jarige man wat saam met sy oorlede eggenote in ʼn gesamentlike testament voorsiening gemaak het vir die samesmelting van hulle gemeenskaplike boedel. Die testament het dan verder voorsiening gemaak vir onder andere ʼn bemaking van alle “likiede fondse” aan ʼn trust met hul kinders as trustees. Gemelde trust moes dan na die diskresie van die trustees voorsiening maak vir die onderhoud van die langslewende.

Uit die feite blyk dit verder die enigste bate in die boedel en dus ook in die trust ʼn kontantbedrag van ongeveer R2 000 000.00 was.

Na afsterwe van sy vrou is die boedel deur ʼn prokureur, wat egter nie as sulks gepraktiseer het nie, maar by ʼn ouditeursfirma gewerk het, beredder. Die langslewende man het ʼn adiasiesertifikaat geteken, soos deur die Wet vereis, om die samesmelting van die boedel te aanvaar sodat die gesamentlike testament uitgevoer kan word en die kontant as erfporsie aan die trust uitbetaal kan word.

SARS eis toe skenkingsbelasting ten bedrae van R170 847.61 op grond van die feit dat die man as langslewende gade afstand gedoen het van sy belang in die bates ten gunste van die trust. Dit kom volgens SARS op ʼn skenking neer.

Na aanleiding daarvan word hierdie aansoek toe geloods vir toestemming van die Hof om die adiasie terug te trek sodat die samesmelting nie sal plaasvind nie ten einde die skenkingsbelasting te vermy. Die Hof moes nou beslis of die adiasie teruggetrek kan word.

Uitspraak:

Die regter beklemtoon dat dit uit die feite voor hom duidelik blyk dat die materiële gevolge en meer spesifiek die skenkingsbelastinggevolge nooit aan die langslewende gade verduidelik is nie. Die man het dus in daardie opsig nie ʼn ingeligte besluit geneem nie toe hy die boedelsamesmelting aanvaar het.

Na oorweging van relevante gesag kom die Hof tot die gevolgtrekking dat elke geval op sy eie meriete oorweeg moet word. Die beginsel is volgens die Hof duidelik: “as reg en billikheid verg dat so ʼn langslewende deur die Hof tegemoet gekom moet word, behoort dit gedoen te word”.

By die toepassing van billikheid as maatstaf wys die Hof veral op die volgende relevante omstandighede van die langslewende man:

·         hy is 85 jaar oud en duidelik onkundig aangaande regsgeleenthede;

·         as gevolg van die adiasie en die gepaardgaande boedelsamesmelting het hy geen bates meer nie;

·         hy sal afhanklik wees van ʼn maandelikse toelae van die trustees;

·         hy het nie die fondse om die skenkingsbelasting te betaal nie;

·         die regsimplikasies van sy keuse was nooit aan hom bekend nie.

Gevolglik, sê die Hof, is hy oortuig dat hierdie ʼn geval is waar reg en billikheid verg dat die langslewende gade sy aanvanklike adiasie kan terugtrek.

Gevolgtrekking:

Boedelsamesmelting word dikwels as meganisme oorweeg ten einde na afsterwe van die eersterwende reeds ʼn bate aan ʼn kind of kinders, alternatiewelik ʼn trust vir die kind of kinders te vererf. Waar pa, wat binne gemeenskap van goedere getroud is, byvoorbeeld saam met sy seun boer en na sy afsterwe wil hê dat die seun reeds die plaas erf onderhewig aan ʼn vruggebruik ten gunste van sy vrou, is boedelsamesmelting die enigste manier hoe dit bewerkstellig kan word.

Dit is egter dan belangrik om die skenkingsbelastingimplikasies te oorweeg. Sover as wat die waarde van die vruggebruik, wat die vrou dan sou kry as sy die boedelsamesmelting sou adieer, minder is as haar 50% belang in die gemeenskaplike boedel, sal dit op ʼn skenking neerkom wat vatbaar is vir skenkingsbelasting.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF