Kan ʼn huwelikskontrak ook ʼn testamentêre bepaling daarstel?

< Back
You are here:
Print

By die oorweging van hierdie vraag in die beslissing van Radebe and Another v Sosibo NO and Others 2011 (5) SA 51 bevind die Hof dat dit wel onder sekere omstandighede moontlik is dat ʼn huwelikskontrak ook testamentêre bepalings bevat, maar dat dit in dié saak nie die geval is nie.

Feite:

Meneer en mevrou Sosibo is op 11 November 2006 getroud. Hulle teken voor die tyd ʼn huwelikskontrak waarvolgens hulle buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling trou. Op 28 Desember 2006, dus nie lank na die huweliksluiting, kom mevrou Sosibo tot sterwe. Sy het geen testament nagelaat nie. Volgens die huwelikskontrak word ʼn sekere stuk grond van mevrou Sosibo uitgesluit van die aanwasbedeling.

Die argument van mevrou Sosibo se ouers is dat sy wou gehad het dat hulle die stuk grond erf. In die hofstukke word beweer dat sy daardie wens tydens haar lewe uitgespreek het en dat meneer en mevrou Sosibo tydens die konsultasie met ʼn prokureur, wat die ondertekening van die huwelikskontrak voorafgegaan het, onder die indruk gebring is dat die uitsluiting van die stuk grond in die huwelikskontrak inderdaad die bemaking daarvan aan haar ouers sou bewerkstellig.

Meneer Sosibo se argument was aan die ander kant dat die huwelikskontrak nie ‘n testament kan daarstel nie en dat hy dus ingevolge die Intestate Erfreg as langslewende gade die hele boedel moes erf insluitende die stuk grond.

Uitspraak:

Die Hof bevind dat ʼn huwelikskontrak inderdaad onder sekere omstandighede ʼn testamentêre bepaling of bepalings kan bevat. In hierdie geval was dit egter uit die bewoording van die huwelikskontrak duidelik dat mevrou Sosibo nie bedoel het om met die uitsluiting van die stuk grond van die aanwasbedeling dit aan haar ouers te bemaak nie. So ʼn afleiding sou net ter sprake kon wees as die huwelikskontrak inderdaad bepaal dat die stuk grond aan haar ouers moet vererf met haar afsterwe.

Verder sou die huwelikskontrak ook aan die formaliteitsvereistes van die Wet op Testamente, 7 van 1953 moet voldoen wat onder andere  bepaal dat elke bladsy deur die erflater voor twee getuies geteken moet word wie ook die testament moet teken. In hierdie geval is die huwelikskontrak deur ʼn gevolmagtigde ingevolge ʼn volmag van mevrou Sosibo onderteken. Die formaliteitsvereistes vir ʼn testament is dus nie nagekom nie.

Gevolglik beslis die Hof ten gunste van meneer Sosibo wie dus daarop geregtig sou wees om die hele boedel van mevrou Sosibo te erf insluitende die stuk grond.

Gevolgtrekking:

Die beslissing wys weereens hoe belangrik dit is om met elke belangrike gebeurtenis in jou lewe jou testament te hersien. Dit geld veral ook waar ʼn mens in die huwelik tree, maar ook waar byvoorbeeld kinders gebore word, in die geval van emigrasie, waar buitelandse bates bekom word, waar waardevolle bates gekoop of verkoop word of waar ʼn erfgenaam te sterwe kom.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF
Previous Wanneer lei onbehoorlike beïnvloeding tot die ongeldigheid van ‘n testamente
Next Wanneer kan ʼn eksekuteur van sy amp onthef word?
Table of Contents