Moet ek ‘n onafhanklike trustee aanstel?

< Back
You are here:
Print

In die bekende Parker-beslissing het Regter Cameron, wat allerweë as ʼn deskundige op die gebied van Trustreg beskou word, in 2004 sekere obiter-opmerkings gemaak oor die samestelling van die trustees van ʼn trust.  Obiter beteken dat die deel van die hofuitspraak eintlik nie ʼn verskil gemaak het aan die uitkoms van die hof se beslissing nie.  Gevolglik is howe in die toekoms nie gebonde aan die deel van die uitspraak volgens ons presedentestelsel nie.  Nietemin lewer obiter-opmerkings tog dikwels ʼn belangrike bydrae tot die ontwikkeling van ons Reg, soos ook in hierdie geval.

Regter Cameron het aangedui dat ʼn familietrust altyd een onafhanklike trustee behoort te hê. Sedertdien volg die Meester van die Hooggeregshof by die registrasie van trusts hierdie benadering deur so ʼn onafhanklike trustee as ʼn vereiste te stel.

Dit is in elk geval uit ʼn belastingoogpunt ʼn goeie idee om eerder ʼn onafhanklike trustee te hê. Byvoorbeeld sal die kanse dan baie skraler wees dat die Ontvanger Artikel 3(3) van die Boedelbelastingwet kan toepas om te argumenteer dat die trustbates eintlik maar volgens die manier hoe die oorledene dit hanteer het bates van die oorledene was. Die gevolg daarvan sou wees dat die bates deel van sy boedel vorm en vatbaar is vir boedelbelasting. Dit gaan ook baie moeiliker wees vir skuldeisers om die trustbates as bates van ʼn trustee uitwinbaar te laat verklaar indien daar ʼn onafhanklike trustee is.

Persone, wie ʼn trust het, behoort gerus seker te maak of hulle ʼn onafhanklike trustee het. Voor die Parker-beslissing het die Meester van die Hooggeregshof inderdaad nog trusts sonder een geregistreer. Die probleem kan egter redelik maklik reggestel word deurdat daar nou ʼn onafhanklike trustee aangestel word volgens die proses wat deur die spesifieke trustakte voorgeskryf word. Indien persone ʼn nuwe trust wil registreer moet hulle ook in gedagte hou dat hulle dan ʼn onafhanklike trustee sal moet benoem.

Volker Krüger
U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF