Kontrolelys vir jou testament

< Back
You are here:
Print

Dit is gereeld verbasend vir ons as prokureurs om te sien hoeveel mense, wie se ander sake klaarblyklik behoorlik gereël is, testamente het wat 20, 30 jaar oud is of nie eers een het nie.  Niemand dink uiteraard graag aan die dood.  Gevolglik hou mense nie daarvan om oor hulle testament te praat nie.

Dit is egter iets wat jy jou geliefdes skuld.  Dit kos nie baie, in terme van geld en tyd, om ‘n bietjie boedelbeplanning te doen en ‘n behoorlike testament te laat opstel nie en kan ‘n klomp kopsere vermy.

Toets gerus jou testament (hopelik het jy een) met hierdie lys. Maak jou testament voorsiening vir die volgende?

Voogde en ‘n trust vir minderjarige kinders
Die voogde is die persone by wie die kinders gaan bly en wie besluite gaan neem oor watter skole die kinders bywoon ensomeer. Die trustees van die trust gaan weer in beheer wees van alle kontant en ander trustbates, wat hulle vir die kinders se onderhoud moet aanwend en aan hulle moet uitbetaal soos deur die trustakte bepaal.

Plaasvervanging en aanwas
Maak jou testament voorsiening vir die moontlikheid dat ‘n erfgenaam voor jou of tesame met jou, byvoorbeeld in ‘n motorongeluk, te sterwe kan kom?

Kapitaalwinsbelasting
Wanneer iemand tot sterwe kom tree soortgelyke gevolge ten opsigte van KWB in werking soos wanneer alles verkoop sou word.

Insolvensie van erfgename
As jou testament nie anders bepaal nie, val erfporsies van insolvente erfgename in die insolvente boedel en word aan skuldeisers verdeel.

Boedelbelasting
Die primêre korting is tans R3.5 miljoen. Boedelbelasting is betaalbaar op die netto waarde van die boedel bo dié bedrag teen 20%. Alles wat die langslewende gade erf is egter vrygestel. Verskeie opsies kan oorweeg word om vir boedelbelasting te beplan, soos byvoorbeeld die oprigting van ‘n familietrust. Ander redes vir die oprigting van ‘n familietrust is risikobestuur (Kan u skuldeisers op al u bates beslaglê indien u finansiële probleme sou ondervind of dalk insolvent verklaar sou word?) en moontlike besparings ten opsigte van inkomstebelasting.

Aanwasbedeling
Die aanwaseis, waar van toepassing, word eers afgedwing as ‘n eis teen die boedel voordat dit wat oorbly volgens die testament vererf.

Skenkings
As die testament nie anders bepaal nie word skenkings aan erfgename in sekere gevalle, byvoorbeeld waar die kinders in gelyke dele erf, afgetrek van erfporsies.

Onderhoud
Is daar voorsiening gemaak vir die onderhoud van die langslewende gade, veral waar hy/sy nie alles erf nie?

Likwiditeit
Sal daar voldoende kontantfondse in die boedel wees om die eksekuteur in staat te stel om u skulde te betaal? As deel van u boedelbeplanning is dit dus belangrik om ook u lewensdekking te hersien.

Onderhoud
Is daar voorsiening gemaak vir die onderhoud van die langslewende gade, veral waar hy/sy nie alles erf nie?

Volmag
Het u saam met u testament ‘n algemene volmag ten gunste van u gade onderteken? So ‘n volmag maak dit moontlik vir u gade, waar u byvoorbeeld in die buiteland of in ‘n koma is, om namens u te handel deur byvoorbeeld kontrakte en ander dokumente te teken.

Lewende testament
Het u ‘n lewende testament?  Dit is ‘n opdrag aan u dokter en familie om die masjiene wat u aan die lewe hou af te skakel waar u breindood sou wees. Met ander woorde dit is ‘n geval waar daar geen hoop hoegenaamd is dat u gaan herstel nie, maar u hart en longe werk nog as gevolg van die moderne mediese tegnologie.  Die lewende testament maak dan die besluit vir u familie en dokter makliker en kan baie trauma en mediese kostes verhoed.

Buitelandse bates
Verskeie oorwegings maak dit meer prakties om ‘n afsonderlike testament te verly ten opsigte van buitelandse bates, waarin ‘n eksekuteur benoem word, wat in die land werk en woon, waar die bates geleë is. Indien u dus gelukkig is om buitelandse bates te besit, sou ons aanbeveel dat u u huidige testament dienooreenkomstig aanpas of ‘n nuwe een verly vir elke land waarin u bates hou.

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF