Jan en Alleman en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, Wet 43 van 1983, soos gewysig

< Back
You are here:
Print

Jan en Alleman en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, Wet 43 van 1983, soos gewysig

Het jy gedink dat hierdie wet net van belang is vir mense in die landboubedryf?

Verkeerd.

Hierdie wet, en veral die regulasies daarkragtens afgekondig, het belangrike implikasies vir selfs stedelinge en elkeen wat ernstig voel oor die bewaring van ons biodiversiteit behoort kennis te neem van die bepalings van hierdie wet wat op elke grondgebruiker van toepassing is.

“Grondgebruiker” het ‘n baie wye betekenis volgens die woordomskrywing daarvan in die wet, en sluit benewens ‘n grondeienaar ook in die huurder of bewoner van grond ongeag selfs of die betrokke persoon op die grond woon.

Die oogmerk van die wet is om voorsiening te maak vir beheer oor die benutting van ons land se natuurlike landbouhulpbronne ten einde die bewaring van grond, waterbronne en die plantegroei daarvan te bevorder en te beskerm, en ook ‘n raamwerk te skep vir die bestryding van onkruid en indringerplante.

Toegegee: die meeste van hierdie aspekte raak merendeels boere en die landbou, maar elke grondgebruiker behoort te weet wat die wet en die regulasies kragtens die wet bepaal rondom veral onkruid en indringerplante.

Dit is eintlik die regulasies kragtens die wet, wat met ingang vanaf 30 Maart 2001 ingrypend gewysig en aangevul is, wat die belangrikste praktiese bepalings hieromtrent bevat.

Deel II van hierdie regulasies handel spesifiek met onkruid en indringerplante. ‘n Tabel (wat uit nie minder nie as 15 bladsye beslaan), lys ‘n groot aantal verklaarde onkruide of indringerplante.

Sommige onkruide is tot onkruide verklaar binne die hele Suid Afrika, en ander onkruide is slegs as sodanig verklaar binne sekere gedeeltes van Suid-Afrika. Die oorgrote meerderheid onkruide is egter landwyd as sodanige verklaar.

Wat indringerplante betref, word egter nie op hierdie wyse onderskei nie – ‘n verklaarde indringerplant beklee daardie status landwyd.

Daar is 121 individuele verklaarde onkruide en 77 verklaarde indringerplante.

Beide verklaarde onkruide en verklaarde indringerplante word dan in die regulasies in sekere kategorieë verdeel. Met die uitsondering van 12 verklaarde onkruide, is alle verklaarde onkruide kategorie 1 plante, wat beteken dat hierdie plante (met die uitsondering van biologiese beheer reservate, wat onder baie streng beheer staan) landwyd glad nie op enige grond mag voorkom nie. Dit is ‘n absolute verbod. Die regulasies bepaal ook baie uitdruklik en pertinent dat sulke onkruid op ‘n verpligte basis deur die grondgebruiker op wie se grond dit voorkom, vernietig en uitgeroei moet word.

Iemand wat nalaat om dit te doen, begaan ‘n misdryf kragtens die wet en kan daarvolgens gestraf word.

Voorbeelde van sulke verklaarde onkruide is die Misblom, Spaanse Riet, Pom-pom bossie (dit is ‘n onkruid wat oral geweldig toeneem), Pampasgras, Gewone dodder, verskeie Stinkblaar soorte, die Waterhiasint, Lantana, Selonsroos, Wilde Tabak, Boereturksvy, Luisboom en verskeie ander.

Om uitvoering te kan gee aan hierdie uitroeiingsplig is dit uit die aard van die saak dus belangrik dat elke grondgebruiker ‘n kennis van hierdie plante moet hê en hulle moet kan herken indien hulle op sy grond voorkom.

12 Verklaarde onkruide is slegs kategorie 1 plante in sekere dele van ons land en kategorie 2 of kategorie 3 plante in ander dele van ons land.

Alle verklaarde indringerplante is of kategorie 2 of 3 plante.

Kategorie 2 plante mag net voorkom in ‘n gebied wat van owerheidsweë voorgeskryf is of in ‘n biologiese beheer reservaat, maar moet op ander grond uitgeroei word. Die regulasies bepaal dat ‘n gebied vir die verbouing van die kategorie 2 plante geoormerk kan word indien plante in daardie gebied onder beheerde omstandighede verbou word, die verbouing daarvan primêr vir kommersiële doeleindes sal wees en die betrokke grondgebruiker alle redelike stappe sal neem om die verspreiding van sulke plante buite daardie gebied te verhoed.

Voorbeelde van hierdie kategorie plante sluit in die Groenwattel, Swartwattel, Australiese Swarthout, Rooibloekom, en verskeie Densoorte. Ook die bekende Treurwilger tel onder hierdie groep.

Kategorie 3 plante mag net voorkom in ‘n biologiese beheer reservaat, maar hierdie beperking is nie op toepassing van kategorie 3 plante wat reeds gevestig was toe hierdie regulasies in werking getree het nie, behalwe in soverre sulke plante voorkom binne 30 meter van die 1:50 jaar vloedlyn van enige waterstroom, rivier of kanaal wat pal of van tyd tot tyd loop, of van enige meer, dam of vleiland. Hier moet kategorie 3 plante dus op ‘n verpligte basis vernietig word, indien dit daar voorkom.

Voorbeelde van kategorie 3 plante sluit in die Purperwinde (“Morning Glory”), die bekende Jakaranda, die Lukwart, Sintjosefslelie, die Maksering, die Manatoka (wat in kusgebiede, vernaamlik in die Suid-Kaap algemeen voorkom) en ook die Tipoeboom, waarvan ‘n groot hoeveelheid in Rustenburg voorkom as sypaadjie- en tuinbome.

Dan bevat die regulasies ook bepalings wat gerig is op die bekamping van bosindringing. Dit is uiteraard nie direk van belang vir stedelinge nie, maar dit is nietemin belangrik dat almal wat dit wel meen met die beskerming van ons flaura en die handhawing van ons biodiversiteit hiervan moet weet.

Die regulasie bevat in ‘n aanhangsel ‘n lang lys plante (hoofsaaklik bome) wat of landwyd of net binne sekere spesifieke provinsies, aanduiders is van bosindringing. Belangrik is dat hierdie lys net die name van inheemse plante bevat.

Die regulasies plaas die verpligting op ‘n grondgebruiker, op wie se grond digte stande van hierdie indringerplante voorkom, om stappe te neem om bosindringing deur daardie plante te bekamp.

Voorbeelde hiervan is Sekelbos en Swarthaak, maar ook verskeie ander.

Francois van Wyk

Jan en Alleman en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbron-ne, Wet 43 van 1983, soos gewysig

image_pdfSave as PDF