Kontrolelys vir jou testament

< Back
You are here:
Print

Dit is gereeld verbasend vir ons as prokureurs om te sien hoeveel mense, wie se ander sake klaarblyklik behoorlik gereël is, testamente het wat 20, 30 jaar oud is of nie eers een het nie.  Niemand dink uiteraard graag aan die dood nie.  Gevolglik hou mense nie daarvan om oor hulle testament te praat nie.

Dit is egter iets wat jy aan  jou geliefdes verskuldig is.  Dit kos nie baie, in terme van geld en tyd, om ʼn bietjie boedelbeplanning te doen en ʼn behoorlike testament te laat opstel nie en kan ʼn klomp kopsere vermy.

Toets gerus jou testament (hopelik het jy een) met hierdie lys. Maak jou testament voorsiening vir die volgende?

Voogde en ʼn trust vir minderjarige kinders

Die voogde is die persone by wie die kinders gaan bly en wie besluite gaan neem oor watter skole die kinders bywoon ensomeer. Die trustees van die trust gaan weer in beheer wees van alle kontant en ander trustbates, wat hulle vir die kinders se onderhoud moet aanwend en aan hulle moet uitbetaal soos deur die trustakte bepaal.

Plaasvervanging en aanwas

Maak jou testament voorsiening vir die moontlikheid dat ʼn erfgenaam voor jou of tesame met jou, byvoorbeeld in ʼn motorongeluk, te sterwe kan kom?

Kapitaalwinsbelasting

Wanneer iemand tot sterwe kom tree soortgelyke gevolge ten opsigte van kapitaalwinsbelasting in werking soos wanneer alles verkoop sou word.

Insolvensie van erfgename

As jou testament nie anders bepaal nie, val erfporsies van insolvente erfgename in die insolvente boedel en word tussen skuldeisers verdeel.

Boedelbelasting

Die primêre korting is tans R3.5 miljoen. Boedelbelasting is betaalbaar op die netto waarde van die boedel bo dié bedrag teen 20%. Alles wat die langslewende gade erf is egter vrygestel. Verskeie opsies kan oorweeg word om vir boedelbelasting te beplan, soos byvoorbeeld die oprigting van ʼn familietrust. Ander redes vir die oprigting van ʼn familietrust is risikobestuur (Kan u skuldeisers op al u bates beslaglê indien u finansiële probleme sou ondervind of dalk insolvent verklaar sou word?) en moontlike besparings ten opsigte van inkomstebelasting.

Aanwasbedeling

Die aanwaseis, waar van toepassing, word eers afgedwing as ʼn eis teen die boedel voordat dit wat oorbly volgens die testament vererf.

Skenkings

As die testament nie anders bepaal nie word skenkings aan erfgename in sekere gevalle, byvoorbeeld waar die kinders in gelyke dele erf, afgetrek van erfporsies.

Onderhoud

Is daar voorsiening gemaak vir die onderhoud van die langslewende gade, veral waar hy/sy nie alles erf nie?

Likwiditeit

Sal daar voldoende kontantfondse in die boedel wees om die eksekuteur in staat te stel om u skulde te betaal? As deel van u boedelbeplanning is dit dus belangrik om ook u lewensdekking te hersien.

Buitelandse bates

Verskeie oorwegings maak dit meer prakties om ʼn afsonderlike testament te verly ten opsigte van buitelandse bates, waarin ʼn eksekuteur benoem word, wat in die land werk en woon, waar die bates geleë is. Indien u dus gelukkig is om buitelandse bates te besit, sou ons aanbeveel dat u u huidige testament dienooreenkomstig aanpas of ʼn nuwe een verly vir elke land waarin u bates hou.

Volker Krüger

Van Velden-Duffey Ingelyf

volker@vvd.co.za

image_pdfSave as PDF