‘n Nag in die selle – wat is jou regte?

< Back
You are here:
Print

‘n Nag in die selle – wat is jou regte?

Mvu vs Minister of Safety and Security & another 2009(6) (SA82) (GSJ)

Mnr. Mvu is ‘n inspekteur in die polisiediens en ook die vader van ‘n tweeling tiener dogters. Duidelik is die dogters op daardie moeilike rebelse stadium en is mnr. Mvu ongelukkig en woedend toe hy hoor dat hulle selfone as geskenk ontvang het van hulle bende-kêrels.  Die ongewenste vriende het onder andere al probeer om die tweeling te betrek by dwelmhandel.  Toe hierdie ontstelde pa dus uitvind van die selfone, het hy dit by die dogters afgeneem en dit uit woede op die grond stukkend gegooi. Die dogters, waarskynlik in samewerking met hulle vriende en op advies van die vriende, gaan lê klagtes teen hulle pa van opsetlike saakbeskadiging.

Mnr. Mvu, die polisie-inspekteur, hoor van hierdie klagtes en gaan dadelik na die polisiekantoor om met die ondersoekbeampte daaroor te gesels. Tot sy groot verbasing, nieteenstaande sy aanbod om saam te werk met die polisie, word hy gearresteer en oornag in ‘n sel geplaas saam met ses ander beweerde misdadigers, insluitende ‘n vermeende verkragter. Die volgende dag word hy vrygelaat op waarskuwing deur ‘n Landdros en uiteindelik is hy onskuldig bevind deur die Hof.

Mnr. Mvu stel nou aksie in teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit vir skade as gevolg van die emosionele trauma voortspruitend uit die onregmatige aanhouding.

Regter Willis bevind tereg dat ons Grondwet verleen aan elke burger van hierdie land die reg tot vryheid en sekuriteit. Hierdie reg sluit beslis in die reg om nie arbitrêr of op ‘n onbillike wyse van jou vryheid ontneem te word nie. Dit sluit weer in om vrygelaat te word vir ‘n latere verhoor as dit in belang van geregtigheid toegelaat kan word. Die Hof bevind dat die persoon wat mnr. Mvu gearresteer het, duidelik nie die omstandighede van die beweerde oortreding in ag geneem het toe hy mnr. Mvu gearresteer het nie.  In die lig van die aard van die klagtes moes hy mnr. Mvu op ‘n waarskuwing of ‘n borg dadelik laat gaan het, en beslis nie oornag aangehou het nie. Die arrestasie en aanhouding is onregmatig en mnr. Mvu slaag met skadevergoeding van R 30 000.00.

Dit is dus duidelik dat die hof verwag van polisiebeamptes om die aard van die oortreding behoorlik in ag te neem voordat hulle ‘n persoon van sy vryheid ontneem.  ‘n Belangrike faktor wat so ‘n beampte moet oorweeg, is of die klagte waarop die persoon gearresteer word, waarskynlik sal lei tot gevangenisstraf indien daar ‘n skuldigbevinding is. As daar waarskynlik net ‘n boete sal wees, is dit onwenslik om so ‘n persoon van sy vryheid te ontneem deur hom in ‘n gevangenis te plaas hangende die verhoor.

Igna Klynsmith

image_pdfSave as PDF
Previous Wie is die redelike man?
Table of Contents