Behoort ek spesifieke bates aan spesifieke erfgename te bemaak?

< Back
You are here:
Print

Die voordeel van spesifieke bemakings aan spesifieke erfgename is dat dit moontlike dispute tussen die erfgename oor wie wat moet kry kan verhoed. Wanneer kinders byvoorbeeld in gelyke dele benoem word, moet

  1. alles verkoop word (wat normaalweg nie ’n goeie idee is nie, omdat ’n mens min kry vir tweedehandse goed);
  2. alles in gelyke dele tussen die kinders verdeel word; of
  3. die kinders moet ’n herverdelingsooreenkoms sluit ingevolge waarvan hulle ooreenkom hoe die bates verdeel gaan word.

Die belangrikste nadeel van spesifieke bemakings aan spesifieke erfgename is die feit dat ’n mens dan gereeld jou testament moet hersien soos wat jy bates koop en verkoop om sorg te dra dat die testament nog reg lees. Aangesien die meeste mense nie goed daarmee is om hulle testament gereeld te hersien nie, is ’n sinvoller benadering dikwels om maar die erfgename in gelyke dele of in persentasies te bevoordeel.

Die potensiële rusie tussen kinders of ander erfgename kan verder verhoed word deur ’n onafhanklike persoon te benoem as eksekuteur. ’n Prokureur met die nodige ondervinding sal byvoorbeeld baie kan help om die kinders te lei na ’n sinvolle verdeling van die bates.

‘n Mens kan ook oorweeg om ‘n klousule in die testament in te voeg waarvolgens die erfgename op ‘n rotasiebasis die roerende bates kies as hulle nie kan ooreenkom hoe dit verdeel moet word nie. So ‘n klousule kan verder bepaal dat die loot gegooi gaan word om te bepaal in watter volgorde die erfgename gaan kies.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF