Behoort ek nou ‘n familie trust te registreer of eerder gebruik te maak van ‘n testamentêre trust?

< Back
You are here:
Print

‘n Testamentêre trust kom volgens die bepalings van die testament tot stand na afsterwe van die erflater.  ‘n Trust inter vivos, aan die anderkant, word terwyl die oprigter nog lewe gestig.

Die inter vivos trust kan dan deur die oprigter daarvan, wat normaalweg ook ‘n trustee en ‘n begunstigde sal wees, vir boedelbeplanning gebruik word.  Uit ‘n risikobestuursoogpunt is die trustbates nie deel van die oprigter, die trustees of die begunstigdes se boedel nie en kan skuldeisers dus nie daarop beslag lê nie wanneer een van hulle finansiële probleme sou ondervind en dalk selfs insolvent verklaar word.

Uit ‘n boedelbelasting oogpunt val die bates nie in die oprigter, die begunstigdes of die trustees se bestorwe boedels nie en is dus nie vatbaar vir boedelbelasting nie.

Wat inkomstebelasting aanbetref kan daar ook besparings bewerkstellig word deur die inkomste van die trust, bv. huurgeld ontvang op trust eiendom verhuur, na die verskillende begunstigdes te kanaliseer. So kan die trustinkomste byvoorbeeld na die oprigter se kinders en gade, wat moontlik teen ‘n laer koers belas word, gekanaliseer word om daardeur inkomstebelasting te bespaar.

Ten slotte kan daardie trust ook vir minderjarige kinders aangewend word ten einde te verhoed dat kontant-erfporsies aan die voogdyfonds van die Meester betaal word vir uitbetaling aan die minderjariges wanneer hulle 18 jaar oud word.

Hierdie voordele moet opgeweeg word teen die koste-implikasies van die registrasie van ‘n trust en die oordrag van bates uit die oprigter se boedel na die trustees.

‘n Trust is dus nie vir elke boedelbeplanner geskik nie.

‘n Testamentêre trust word hoofsaaklik gebruik vir minderjarige kinders ten einde te verseker dat kontantfondse nie aan die Voogdyfonds oorbetaal word nie en om die minderjariges teen hulleself te beskerm; dit wil sê om te verhoed dat hulle die erfporsies onverantwoordelik verkwansel op byvoorbeeld karre en oorsese reise in plaas daarvan om te studeer.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF