Die oorledene se oorspronklike testament is verlore. Wat nou?

< Back
You are here:
Print

Daar bestaan ‘n vermoede in ons reg dat die oorledene sy testament herroep het deur dit te vernietig as dit na sy afsterwe nie gevind kan word nie.  Hierdie vermoede kan egter weerlê word deur getuienis en kan die hof inderdaad die Meester van die Hooggeregshof gelas om ‘n afskrif daarvan, selfs ‘n elektroniese afdruk, te aanvaar as die laaste wil en testament.

In ex parte Porter and Another 2010 (5) SA546 het die oorledene ‘n kodisil tot sy testament, ten opsigte waarvan die formaliteitsvereistes en beginsels dieselfde is as vir die testament self, in die teenwoordigheid van twee getuies verly wat ook die testament geteken het.  Al die formaliteitsvereistes van die Wet op Testamente is dus nagekom volgens die getuienis voor die hof.  Daarna het die oorledene die oorspronklike getekende testament in ‘n koevert met ‘n bode na sy prokureur se kantore gestuur.  Volgens ‘n eedsverklaring voor die hof kon die ontvangsdame ook inderdaad die betrokke bode en die ontvang van die koevert onthou.  Ongelukkig weet egter niemand wat daarna van die koevert geword het nie.  Die hof maak dus die afleiding dat die koevert met die testament in die prokureurskantoor verlore geraak het.  Dit blyk ook dat die prokureur nog ‘n elektroniese afdruk van die testament op rekenaar gehad het sodat daar met sekerheid bepaal kon word wat die inhoud van die dokument was wat die oorledene geteken het.

Die hof aanvaar dat voormelde vermoede weerlê is en beslis dat die Meester die kodisil moet aanvaar as die laaste wil en testament van die oorledene saamgelees met sy testament.

Die hof bevind verder dat Artikel 2(3) van die Wet op Testamente wat voorsiening maak vir die kondonasie van die nie-nakoming van formaliteitsvereistes, waarop die Applikante staat gemaak het, nie van toepassing is nie.  In hierdie geval is die formaliteitsvereistes inderdaad volgens die getuienis voor die hof nagekom en kom die hof dus eerder op grond van gemeenregtelike beginsels tot sy gevolgtrekking.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

 

image_pdfSave as PDF
Previous Do you have to appoint an independent outsider as co-trustee?
Next Behoort ek spesifieke bates aan spesifieke erfgename te bemaak?
Table of Contents