Wat moet oorweeg word wanneer ‘n huweliksgoederebedeling in ‘n huwelikskontrak gekies word?

< Back
You are here:
  • KB Home
  • Family law
  • Wat moet oorweeg word wanneer ‘n huweliksgoederebedeling in ‘n huwelikskontrak gekies word?
Print

Die basiese keuse is tussen ‘n huwelik binne gemeenskap van goedere en ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere, terwyl laasgenoemde met of sonder die aanwasbedeling kan wees.

Vir ‘n huwelik binne gemeenskap van goedere is geen huwelikskontrak nodig nie.  In sò geval kom daar ‘n gemeenskaplike boedel na datum van huwelik tot stand waarin albei gades se bates en laste val, ongeag of die bates voor of na huweliksluiting tot stand gekom het.

Waar die huwelik binne gemeenskap van goedere beëindig word deur dood of deur egskeiding word die gemeenskaplike boedel as uitgangspunt in gelyke dele verdeel.

By ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere het elke gade sy/haar eie bates en laste.  Waar die huwelik dan beëindig word deur dood of deur egskeiding hou elke gade ook as basiese beginsel sy/haar eie boedel en is daar geen eise wat die gades as algemene reël teen mekaar kan instel vir herverdeling van bates.  Een uitsondering is ‘n eis gebaseer op Artikel 7 van die Wet op Egskeidings.

By ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling het elke gade ook sy eie boedel met bates en laste.  Wanneer die huwelik egter beëindig word sal ‘n herverdeling van bates plaasvind volgens ‘n voorgeskrewe formule.  Hierdie formule bepaal dat die gade wie se aanwas gedurende die huwelik kleiner was geregtig is om die helfte van die verskil in die aanwas van die twee boedels te eis.

Die aanwas word bereken deur die beginwaarde van elke boedel af te trek van die eindwaarde daarvan, byvoorbeeld:

Man
Beginwaarde: R100 000.00
Eindwaarde: R1 100 000.00
Aanwas: R1 000 000.00

Vrou
Beginwaarde: R50 000.00
Eindwaarde: R550 000.00
Aanwas: R500 000.00

In hierdie geval sal die vrou se eis in terme van die aanwasbedeling gelykstaande wees aan 50% van die verskil tussen R1 000 000.00 en R500 000.00, dus R250 000.00.

Waar ‘n huwelik deur dood beëindig is sal die aanwaseis eers afgedwing word teen of ten gunste van die bestorwe boedel en daarna sal die boedel volgens die oorledene se testament, waar daar een is, of ingevolge die Intestate Erfreg, waar daar nie een is nie, vererf.

Die belangrikste “voordeel” van die huwelik binne gemeenskap van goedere is dat alle bates en laste asook winste en verliese gedeel word tussen die gades.

Die belangrikste voordeel van die huwelik buite gemeenskap van goedere (met of sonder die aanwasbedeling) is dat skuldeisers van ‘n gade nie kan beslag lê op die bates van die ander gade en verdermeer in die geval van insolvensie van een van die gades die ander gade se boedel in beginsel nie daardeur geraak word nie.

Die belanrikste “voordeel” van die aanwasbedeling is dat alle bates wat saam na datum van huweliksluiting opgebou word gedeel word.

Vra jou prokureur om ook jou testament saam met die opstel van die huwelikskontrak na te gaan.  Die belangrikste verskil tussen ‘n testament en ‘n huwelikskontrak is dat die testament ter eniger tyd eensydiglik gewysig kan word deur ‘n nuwe een te verly terwyl ‘n huwelikskontrak slegs met die toestemming van albei gades en met ‘n Hooggeregshof bevel verander kan word.

image_pdfSave as PDF
Previous Watter regsreëls geld by voogdyskap oor kinders en het ‘n voog die reg om ‘n plaasvervangende voog aan te wys?
Next Wat moet oorweeg word wanneer ‘n huweliksgoederebedeling gekies word?
Table of Contents