Watter regsreëls geld by voogdyskap oor kinders en het ‘n voog die reg om ‘n plaasvervangende voog aan te wys?

< Back
You are here:
Print

1. Die posisie met betrekking tot kinders wat uit ‘n huwelik gebore is en waarvan die ouers nie geskei is nie, is soos volg :

.1 Die vader en moeder is beide voogde met gelyke seggenskap, behalwe dat beide se toestemming nodig is met betrekking tot sekere spesifieke aangeleenthede of handelinge, soos uiteengesit in die Wet op Voogdy, Nr 192 van 1993. Dit het onder andere betrekking op huweliksluiting deur die kind en die afgee van die kind vir aanneming.

1.2 Waar een ouer te sterwe kom, berus die uitsluitlike voogdy met betrekking tot die kind daarna uitsluitlik by die oorblywende ouer.

1.3 Die eerssterwende ouer kan nie regsgeldiglik ‘n mede-voog vir sy kind(ers) benoem nie, aangesien sodanige benoeming verbied word deur die Wet op Huweliksaangeleenthede, Nr 37 van 1953.

1.4 Die langslewende ouer kan wel regsgeldiglik testamentêr ‘n plaasvervangende voog ten opsigte van sy of haar minderjarige kinders(ers) benoem, omdat so ‘n ouer op daardie tydstip die kind(ers) se enigste natuurlike voog is en so ‘n benoeming derhalwe nie geraak word deur die vebiedende bepalings van die Wet op Huweliksaangeleenthede.

1.5 In die geval waar die langslewende ouer wel ‘n plaasvervangende voog by wyse van ‘n testament benoem, moet die Meester van die Hooggeregshof ingevolge die bepalings van die Boedelwet, Nr 66 van 1965, ‘n voogdybrief ten gunste van die benoemde voog uitreik. So ‘n benoemde voog ontleen sy bevoegdheid as voog nie in die eerste plek aan die testament waarin hy benoem is nie, maar aan die voogdybrief wat deur die Meester aan hom uitgereik word. ‘n Persoon wat byvoorbeeld teenoor ‘n skool aanvoer dat hy ‘n kind se voog is, kan dus om ‘n voogdybrief gevra word om sy aanspraak te bewys.

2. Met betrekking tot kinders wat binne die huwelik gebore is maar waarvan die ouers daarna geskei is, kan die posisie soos volg saamgevat word :

2.1 Die vader en die moeder is weereens beide voogde met gelyke seggenskap, behalwe dat beide se toestemming benodig word met betrekking tot sekere spesifieke aangeleenthede. Beide die kind se ouers is en bly na egskeiding sy voogde met gelyke regte as voogde, en die egskeiding doen geen afbreuk aan hierdie toedrag van sake nie.

2.2 Die Hof het ‘n diskresie om by egskeiding, in ‘n gepaste geval, uitsluitlike voogdyskap met betrekking tot kinders uit die huwelik gebore aan slegs een van die ouers toe te ken, en aanvullend daartoe selfs te gelas dat by afsterwe van daardie ouer, hy of sy ‘n plaasvervangende voog ter uitsluiting van of gesamentlik met die oorlewende ouer mag aanwys. Dit geskied kragtens artikel 6 van die Wet op Egskeiding, Wet 70 van 1979.

2.3 Na egskeiding en by gebreke aan enige bestaande bevel, het die Hof voorts die bevoegdheid (voogdyskap vervolg)om, kragtens die Wet op Huweliksaangeleenthede, ‘n wesenlik soortgelyke bevel as in 2.2 uiteengesit te maak.

2.4 Die ouer aan wie uitsluitlike voogdyskap toegeken is, is geregtig om testamentêr ‘n ander persoon tot enigste voog oor die kind benoem. Die Meester moet dan aan daardie benoemde voog ‘n voogdybrief uitreik.

3. Ten opsigte van kinders buite die eg gebore, is die posisie soos volg :

3.1 As die moeder self minderjarig is, berus die voogdy met betrekking tot haar kind by die moeder se voog. Dit word bepaal deur die Wet op die Status van Kinders, Wet 82 van 1987.

3.2 As die moeder meerderjarig is of meerderjarigheid verwerf na geboorte van die kind (hetsy deur die meerderjarigheidsouderdom te bereik, deur huweliksluiting of kragtens ‘n bevel verleen ingevolge die Wet op die Meerderjarigheidsouderdom, Wet 57 van 1992), berus voogdyskap met betrekking tot die kind by die moeder, tensy ‘n Hof anders gelas.

3.3 Die biologiese vader kan aansoek doen by die Hof om voogdyskap met betrekking tot die kind verleen te word, en die Hof kan dit in ‘n gepaste geval verleen op sterkte van die bepalings van van die Wet op Natuurlike Vaders van Buite-egtelike kinders, Wet 86 van 1997. So ‘n bevel kan selfs uitsluitlike voogdyskap met betrekking tot die kind aan die biologiese vader verleen.

3.4 As die moeder en biologiese vader van die kind te enige tyd nà die kind se geboorte sou trou, word die kind vanweë die huwelik vir alle praktiese doeleindes ‘n binne-egtelike kind en sal beide ouers voogde wees met gelyke seggenskap.

4. In die algemeen moet altyd onthou word dat die Hof gemeenregtelik die oppervoog van alle kinders is, en in ‘n gepaste geval altyd deur die Hof ingegryp kan word om voogdyskap van ‘n bepaalde voog weg te neem, die regte van die voog in te perk of selfs ‘n mede-voog te benoem.

5. Uit voorgaande blyk dat ‘n plaasvervangende voog net testamentêr benoem kan word as

cb 5.1 die testateur op daardie tydstip die enigste natuurlike voog van die kind was, hetsy omdat die ander ouer wat mede-voogdyskap gehad het reeds oorlede is of die betrokke ouer nooit met die biologiese vader van die kind getroud was nie, of

5.2 die testateur spesifiek uitsluitlike voogdyskap deur ‘n bevoegde geregshof verleen is.Dit wat in 5.1 gesê is, impliseer natuurlik dat ouers in ‘n gesamentlike testament ook ‘n alternatiewe voog vir hulle kinders kan benoem in die geval van hulle moontlike gesamentlike afsterwe.

image_pdfSave as PDF