Wat bepaal die Wet op Voorkoming van Gesinsgeweld?

< Back
You are here:
Print

Op 15 Desember 1999 het ‘n nuwe Wet op Gesinsgeweld in werking getree. Die oogmerk van hierdie wet is om aan slagoffers van gesinsgeweld die maksimum beskerming teen gesinsmishandeling te bied en om daarmee saam maatreëls in te stel wat daarop gemik is om te verseker dat hierdie wet ook in praktyk tande het en inderdaad die talle slagoffers van gesinsgeweld beskerm

Met die lees van die wet en veral as dit gelees word saam met die nasionale instruksie wat daarop gerig is om duidelike leiding aan die SAP te verskaf en verpligtinge op te lê oor hoe klagtes van gesinsgeweld gehanteer moet word, is dit duidelik dat daar erns is om hierdie wetgewing te laat werk.

Die nuwe wet bevat interessante uitbreidings op die vorige wetgewing en erken die nuwe wet bv nie net fisieke en seksuele misbruik nie, maar ook emosionele en ekonomiese misbruik.

Gesinsgeweld soos gedefinieer in die wet, sluit nou ook in intimidasie, naamlose oproepe en selfs die weerhouding van ekonomiese voordele waarop ‘n klaer / klaagster, geregtig is. Die geweldenaar moet bv steeds sy finansiële verpligtinge nakom, ongeag of hy deur die hof die woonhuis belet is. Dit sal na ons mening baie daartoe bydra om slagoffers aan te moedig om regshulp te verkry, aangesien hulle finansiële en persoonlike veiligheid ook gewaarborg word.

Baie maal was vroue veral huiwerig om hulp te soek, juis omdat hulle vrees dat hulle mans al die finansiële steun sal onttrek. Die wetgewing gee verder nou ook aan kinders die reg om ‘n aanklag in te dien sonder dat hulle vergesel hoef te word deur ‘n voog of ‘n ouer. Die rede hiervoor is waarskynlik onder andere daarin geleë dat daar baie gevalle is waar die moeder bv bewus is daarvan dat haar kinders seksueel misbruik word, maar nie bereid is om ‘n aanklag in te dien nie. Die kind kan dit nou op sy eie doen.

Van nog groter belang vir u as ons kliënte, is die bepaling dat iemand anders kan met die medewete van ‘n slagoffer, ‘n aanklag namens die persoon gaan indien. In die geval van ‘n minderjarige, geestesgestremde, ens. kan enige ander persoon soos bv. ‘n onderwyser, maatskaplike werkster, leraar of vriend, ‘n aanklag van seksuele aanranding of ander vorme van mishandeling, namens die kind, by ‘n Hof aanhangig maak.

Uit ondervinding in ons prokureurskantoor, weet ons dat gesinsgeweld ‘n vretende kanker is wat ons samelewing in Suid-Afrika op ‘n daaglikse basis besmet. Hierdie sosiale euwel neem op ‘n ontstellende wyse toe en ongelukkig is dit meestal die mees weerlose vroue asook hulle kinders wat die teiken hiervan is.

Mense dink dikwels dat dit slegs fisieke geweld is wat groot skade aanrig, maar is daar geen twyfel dat die gevolge van verbale geweld ook ontstellend is nie. Die selfbeeld van slagoffers wat by die prokureurskantoor uitkom, is gewoonlik alreeds baie naby aan nul en dikwels ervaar slagoffers ook ernstige psigologiese gevolge. In ‘n egskeidingspraktyk sal ‘n prokureur dikwels vind dat die kliënt reeds al in ‘n senuweekliniek behandel is.

Die kliënt is dan ook deur haar eggenoot gedreig dat sy nie die kinders sal kry nie, aangesien sy psigies ongebalanseerd is. Die emosionele afpersing wat daarmee gepaard gaan is uiteraard ontstellend en is dit dan redelik gerusstellend vir so ‘n kliënt om te verneem dat die Hof uiteraard geseënd is met ‘n redelike mate van mensekennis en deeglik daarvan bewus is dat die opname in ‘n senu-kliniek dikwels die oorsaak is van die ander party se emosionele afpersing en aanhoudende verbale geweld.

Veral vroue, word dikwels afgekraak op dié gebiede wat vir hulle van die uiterste belang is, soos hul voorkoms, huishouding en veral hulle kinders. Insiggewend is ook die feit dat hierdie voorvalle nie beperk is tot minder gegoede huishoudings nie, maar baie dikwels voorkom by gesinne uit die middelklas asook selfs die hoë klasse waar vrouens gedurig moet hoor dat hulle eintlik niks werd is.

‘n Interessante feit is dat navorsing aangetoon het dat 30 % van fisieke geweld en 90 % van verbale geweld, reeds voor die huwelik in die verhouding voorkom. Ons as ouers het dus ook ‘n plig om reeds ons kinders daarop te wys dat fisieke geweld en verbale geweld wat in hulle voor-huwelikse verhouding voorkom, waarskynlik later gaan vererger en behoort hulle tydig daarop bedag te wees.

‘n Verdere interessante uitbreiding in die wetgewing is dat hierdie wet nie net van toepassing is op die normale gesinsverhouding nie, maar ook op feitlik alle vorme van verhoudinge binne en buite die huwelik en ook alle vorme van saamwoon verhoudinge.

Die definisie van ‘n gesinsverhouding sluit o.a. ook in nie net bloedverwantskappe nie, maar ook aangetroude familie of kinders wat aangeneem is. Ook verlowings, gebruiklike verhoudings, veronderstelde romantiese, seksuele of intieme verhoudinge van enige tydsduur, word deur die wet gedek.

Onder seksuele mishandeling word ook ingesluit enige gedrag wat die klaer mishandel, verneder, verkleineer of andersins die klaer se seksuele integriteit skend. In hierdie verband is dit al ‘n refrein by partye wat skei dat die een party beskuldig word van gereelde buite-egtelike verhoudings en gereeld moet hoor dat sy “‘n slegte vrou” of ‘n “prostituut” is.

Teistering word ook spesifiek deur die wet verbied wat insluit herhaalde dophou van of rondsluier buite of naby die gebou of plek waar die klaer / klaagster woon, werk besigheid doen, studeer, ens. Ook die herhaalde maak van telefoonoproepe of die herhaalde aflewering van telegramme, pakkies, ens. word verbied.

Om ‘n bevel teen ‘n oortreder te verkry, is kosteloos en uiters eenvoudig. ‘n Klaer of iemand wat die klaer verteenwoordig, kan bloot na ons plaaslike landdroskantoor gaan waar daar hulp gegee sal word aan die klaer om op die voorgeskrewe wyse die klag in te dien.

Die Hof het baie wye bevoegdhede in verband met die beskermingsbevel wat enige handeling van gesinsgeweld kan verbied, o.a. ook die respondent kan verbied om ‘n woning binne te gaan of om ‘n werksplek binne te gaan en die Hof kan ook enige bykomende voorwaardes wat die Hof redelikerwys nodig ag, oplê ten einde die veiligheid, gesondheid of welstand van die klaer / klaagster te beskerm, wat insluit bv die beslaglegging van ‘n gevaarlike wapen of bevele dat daar in sekere finansiële behoeftes van die klaer voorsien moet word.

Kontak met kinders kan, indien dit in die beste belang van die kind is, ook deur die Hof ontsê word of kan kontak met ‘n kind gelas word op slegs spesifieke voorwaardes.

Belangrik is dat ‘n Lasbrief vir Inhegtenisneming by uitreiking van die beskermingsbevel, ook gemagtig word en indien die respondent dan die bepalings van die beskermingsbevel nié nakom nie, kan die Lasbrief deur ‘n verklaring van die klaer / klaagster uitgereik word en kan die oortreder onmiddellik gearresteer word.

In hierdie geval is daar heelwat riglyne aan die polisie opgelê en het hulle ‘n plig om sekere stappe te neem indien dit versoek word.

Enige party tot verrigtinge ingevolge hierdie wet, kan deur ‘n prokureur verteenwoordig word indien u dit sou verkies. Dit is belangrik dat die Hof selfs ook ‘n kostebevel teen ‘n ander party kan maak indien hy tevrede is dat so ‘n party op ‘n beuselagtige, kwelsugtige of onredelike wyse opgetree het en die Hof se tyd gemors het.

image_pdfSave as PDF