Wanneer kan ‘n voog ‘n plaasvervanger in ‘n testament benoem?

< Back
You are here:
Print

Die vader en moeder is beide voogde met gelyke seggenskap, behalwe dat beide se toestemming nodig is met betrekking tot sekere spesifieke aangeleenthede of handelinge, soos meer volledig uiteengesit in artikel 1 van die Wet op Voogdy, Nr 192 van 1993.

Dit het onder andere betrekking op huweliksluiting deur die kind en die afgee van die kind vir aanneming.

Waar een ouer te sterwe kom, berus die uitsluitlike voogdy met betrekking tot die kind daarna uitsluitlik by die oorblywende ouer.

Die eerssterwende ouer kan nie regsgeldiglik ‘n mede-voog vir sy kind(ers) benoem nie, as gevolg van die verbiedende bepalings van artikel 5 (3)(b) van die Wet op Huweliksaangeleenthede, Nr 37 van 1953.

Die langslewende ouer kan wel regsgeldiglik testamentêr ‘n plaasvervangende voog ten opsigte van sy of haar minderjarige kinders(ers) benoem, omdat so ‘n ouer op daardie tydstip die kind(ers) se enigste natuurlike voog is en so ‘n benoeming derhalwe nie getref word deur die verbod vervat in artikel 5(3)(b) van die Wet op Huweliksaangeleenthede nie.

In die geval van ‘n testamentêre benoeming soos in 1.4 bedoel, moet die Meester van die Hooggeregshof ingevolge die bepalings van artikel 72(1)(a)(i) van die Boedelwet, Nr 66 van 1965, ‘n voogdybrief ten gunste van die benoemde voog uitreik. So ‘n benoemde voog ontleen sy bevoegdheid as voog nie in die eerste plek aan die testament waarin hy benoem is nie, maar aan die voogdybrief wat deur die Meester aan hom uitgereik word.

‘n Persoon wat byvoorbeeld teenoor ‘n skool aanvoer dat hy ‘n kind se voog is, kan dus om ‘n voogdybrief gevra word om sy aanspraak te bewys.

image_pdfSave as PDF