Wanneer lei onbehoorlike beïnvloeding tot die ongeldigheid van ’n testamente?

Last Updated On November 21, 2018

Die maak van ʼn testament moet die vrye uitoefening van die testateur of testatrise se wil daarstel. Indien die testament na aanleiding van dwang of bedrog verly is, kan dit tot ongeldigheid daarvan aanleiding gee.

In die saak van Katz and Another v Katz and Others [2004] 4 All SA 545 (C) is daar byvoorbeeld beweer dat die testateur onbehoorlik deur sy tweede vrou beïnvloed is. Die Hof beklemtoon egter dat ʼn blote bewering dat van die feite teenwoordig is onvoldoende is: daar moet voldoende bewyse wees van onbehoorlike beïnvloeding. Ook wys die regter uit dat die hoeveelheid druk, wat uitgeoefen word, van geval tot geval kan verskil. Volgens die Hof is die feit dat die testateur vir ʼn geruime tyd na die verlyding van die testament die geleentheid gehad het om die testament te herroep sonder om dit te doen ʼn belangrike aanduiding is dat daar nie onbehoorlike beïnvloeding was nie.  

Die testament is dus as geldig en afdwingbaar beskou.

In nog ʼn saak, naamlik Spies NO v Smith en Andere 1957 (1) SA 539 (A) wys die Hof ook uit dat “flattery, professions of extraordinary love or respect, meek tolerance of continual humiliation, direct requests or unusual affection” nie noodwendig voldoende is om onbehoorlike beïnvloeding daar te stel nie. ʼn Element van dwang of bedrog word vereis. In die Spies-saak was die vraag of ʼn verstandelik gestremde persoon onbehoorlik deur sy oom beïnvloed is. Die oom was ook sy kurator bonis. Die oorledene se testament het bepaal dat die oom se kinders sou erf.

Die kernvraag volgens die Hof is of die optrede van so ‘n aard was dat die verlyding van die testament nie ʼn uitoefening van die testateur se vrye wil daargestel het nie, maar eerder neergekom het op die uiting van iemand anders se wil. In die opsig is die testateur se geestesongesteldheid, sy vermoë om beïnvloeding te weerstaan en die verhouding tussen al die relevante persone alles faktore wat in ag geneem moet word. Die blote bestaan van ʼn besondere verhouding beteken egter nie dat daar ʼn vermoede bestaan dat die testateur se wil met iemand anders s’n vervang is nie.

Ook in daardie saak was die aanval op die geldigheid van die testament dus onsuksesvol gewees.

Dit is uit hierdie twee sake duidelik dat dit nie so maklik is om die geldigheid van ʼn testament op grond van onbehoorlike beïnvloeding te betwis nie. Bloot omringende omstandighede wat agterdog wek is klaarblyklik onvoldoende. Daar moet inderdaad duidelike bewyse wees dat die testateur of testatrise tot so ʼn mate beïnvloed is dat dit sonder twyfel gesê kan word dat hy of sy as gevolg van dwang of bedrog ʼn testament verly het wat eintlik iemand anders se bedoelings weerspieël.

Volker Krüger