Hoe kan ek seker maak dat my kinders erf en my vrou ook versorg is?

< Back
You are here:
Print

Getroudes hou dikwels hulle testament eenvoudig en benoem mekaar as erfgename. Soms het ’n erflater egter die behoefte om seker te maak dat ’n kind of die kinders erf al oorleef sy gade hom. Onthou dat die langslewende gade te enige tyd ’n nuwe testament kan verly om iemand anders as die kinders te laat erf. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat die lansglewende gade weer trou en die nuwe gade as erfgenaam benoem. Dan kry die kinders dalk niks nie.

Verskillende opsies kan in dié verband oorweeg word. So byvoorbeeld kan die erflating na ’n trust gaan waarvan die langslewende en die kinders die begunstigdes is. Die langslewende se voordeel kan ook beperk word tot dié van ’n inkomstebegunstigde alleen en uitgesluit word as ’n kapitaalbegunstigde.

‘n Fideicommissum is ‘n verdere opsie. Daarvolgens erf die langslewende dan die boedel, alternatiewelik sekere bates onderhewig daaraan dat na die langslewende se afsterwe die bate(s) na die kinders toe gaan. Die langslewende kan dit dus nie vervreem nie, behalwe met die toestemming van alle moontlike fideikommissarisse of ‘n hofbevel.

‘n Derde moontlikheid is om van vruggebruik gebruik te maak. In so ‘n geval het die langslewende gade die volle voordeel van die eiendom en die vrugte daarvan vir die res van sy lewe. Na afsterwe van die langslewende verkry die blooteienaars (die kinders) die volle eiendomsreg van die eiendom.

Elke opsie het sy voor en nadele. Dit is dus belangrik om elke boedelbeplanner se spesifieke omstandighede te oorweeg ten einde te besluit watter een die mees gepaste een gaan wees vir die spesifieke geval.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF