Kan ‘n langslewende gade onderhoud van ‘n bestorwe boedel eis waar sy deur haar kinders ondersteun word?

< Back
You are here:
Print

Voordat die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades, 27 van 1990 in werking getree het, het die langslewende gade geen eis teen die bestorwe boedel van haar gade vir onderhoud gehad nie.  Die veronderstelling was gewees dat die langslewende gade in elk geval ingevolge die testament of die intestate erfreg genoeg sou erf.  Dit gebeur egter soms dat die langslewende gade nie genoeg erf om vir haar onderhoud voorsiening te maak nie, byvoorbeeld waar die oorledene ook kinders uit vorige huwelik wil bevoordeel.  Ten einde die onbillike gevolge daarvan aan te spreek is die Wet toe in werking gestel.  Daarvolgens kan die langslewende gade nou wel onderhoud eis.  Die Wet skryf dan ook die faktore voor wat in aanmerking geneem moet word om te bepaal of daar ‘n eis is en ook die omvang daarvan.  Een van hierdie faktore is die langslewende se eie middele.

In die saak van Oshry NO and Another v Feldman 2010 (6) SA 19 (SCA) eis die langslewende gade, wat volgens die testament slegs R150 000 sou erf, onderhoud van die bestorwe boedel ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades, 27 van 1990. Die eksekuteur weier egter om die eis te erken.

Uit die feite voor die Hof blyk dit dat sy ongeveer R18 000.00 per maand vanaf haar twee seuns, wat in Amerika woon, ontvang om vir haar onderhoud voorsiening te maak.  Die eksekuteur van die boedel se argument is dat hierdie ontvangstes deur die langslewende gade as deel van haar eie middele beskou moet word en in aanmerking geneem moet word by die bepaling van haar onderhoudseis.

Die Hof stem egter, gelukkig vir die langslewende gade, nie daarmee saam nie.  Die Hof maak dit duidelik dat die bedoeling van die Wet was om te sorg dat een van die belangrikste pligte van ‘n getroude persoon, naamlik om sy of haar gade te onderhou, oorgedra word op sy of haar boedel.  Verder verwys die Hof ook na die beginsel dat ‘n persoon eers onderhoud van sy of haar kinders kan eis nadat die persoon ten spyte van alle redelike stappe geen onderhoud van sy of haar gade kon verkry nie. Die Hof ontleed die bepalings van die Wet en kom tot die slotsom dat die eie middele, waarna die Wet verwys, nie skenkings insluit nie.

Die Hof beslis dus dat die bedrae, wat die langslewende gade van haar twee seuns ontvang, nie in aanmerking geneem moet word nie en bevestig daarmee die beginsel dat ex gratia betalings nie ‘n eiser ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades, 27 van 1990 kan benadeel nie.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF