Is ‘n versekeringsmaatskappy verplig om ‘n lewenspolis uit te betaal waar die oorledene onder die invloed van drank bestuur het en in ‘n motorongeluk gedood is?

Last Updated On December 20, 2018

Is ‘n versekeringsmaatskappy verplig om ‘n lewenspolis uit te betaal waar die oorledene onder die invloed van drank bestuur het en in ‘n motorongeluk gedood is?

Daar is nòg ‘n baie goeie rede waarom dit onverantwoordelik is om te drink en te bestuur!

In die Hoogste Hof van Appél is daar onlangs in die saak van AMM van Zyl v Kiln Non – Marine Syndicate No 510 of Loyds of London beslis dat ‘n versekeraar nie ‘n bedrag van ongeveer R366 000.00 plus rente hoef uit te betaal aan die gesin van ‘n man wat dood is nadat hy ‘n motor onder die invloed van drank bestuur het nie.

Die feite van die saak is kortliks as volg: Die oorledene was ‘n bankbestuurder van Klerksdorp. Op die aand van sy dood het hy ‘n partytjie op Wolmaransstad, ongeveer 110 km van Klerksdorp, bygewoon. Hy het ongeveer 8 uur die aand by die partytjie opgedaag en het weer teen middernag teruggery huistoe. By die partytjie het hy brandewyn gedrink. Bloedtoetse het later getoon dat die konsentrasie alkohol in sy bloed ten tyde van sy dood 0.19 g per 100 ml bloed was. (Hou in gedagte dat die toegelate persentasie 0,05 g is.) Voordat hy teruggery het Klerksdorp toe, het hy saam met die ander gaste geëet en getuienis is gelei dat hy heeltemal normaal voorgekom het.

Vroeg die volgende oggend is mnr Van Zyl se voertuig met sy lyk in die bestuurdersitplek in die veld langs die Klerksdorppad opgemerk. Die pad was droog, geteer en reguit. Daar was egter duidelike remmerke sigbaar; hierdie merke was aan die verkeerde kant van die pad en daar was ook duidelike tekens op die teer waar die voertuig die pad verlaat het. Daar was geen slaggate of ander sigbare obstruksies op die padoppervlakte nie.

Die forensiese patoloog wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het gesê dat hoewel die ongeluk wel veroorsaak kon word deur byvoorbeeld ‘n dier wat voor die voertuig ingehardloop het of enigiets dergliks, is die mees waarskynlike rede vir die ongeluk dat die oorledene agter die stuurwiel aan die slaap geraak het en toe beheer oor die voertuig verloor het. Hierdie afleiding is gesteun deur die feit dat die ongeluk laat in die nag plaasgevind het en die oorledene waarskynlik vaak was. Die patoloog het ook gesê dat die hoë konsentrasie alkohol in die oorledene se bloed kon bydra daartoe dat die oorledene se konsentrasie verswak was en dat hy vaak gevoel het.

Die oorledene het ‘n lewenspolis gehad wat uitbetaal sou word aan sy naasbestaandes by sy dood of by permanente ongeskiktheid weens ‘n ongeluk. Die polis het egter ‘n klousule bevat wat aanspreeklikheid van die versekeraar uitgesluit het indien die versekerde homself willens en wetens aan gevaar sou blootstel, selfmoord sou pleeg of homself doelbewus sou beseer. Die versekeringsmaatskappy het geweier om uit te betaal en het aangevoer dat die feit dat die versekerde onder die invloed van drank bestuur het neergekom het daarop dat hy homself willens en wetens blootgestel het aan gevaar. Die versekeraar het aangevoer dat dat hulle aanspreeklikheid dus in die omstandighede uitgesluit was.

Die oorledene se vrou het daarop ‘n aansoek gebring om die versekeringsmaatskappy te verplig om wel uit te betaal, maar hierdie aansoek is in die hof a quo van die hand gewys. Verlof is verleen om te appélleer teen die hof a quo se uitspraak.

Die vernaamste vraag waarop die hof van appél gekonsentreer het was of die oorledene homself willens en wetens aan gevaar blootgestel het en of sy optrede die versekerings-maatskappy se aanspreeklikheid uitgesluit het.

Volgens getuienis deur die forensiese patoloog in die hof a quo het die oorledene ongeveer 400 ml brandewyn ingeneem op die aand van sy dood. 400 ml is meer as ‘n halwe bottel. Die hof het in sy uitspraak gesê dat nie net die groot hoeveelheid alkohol wat die oorledene ingeneem het, in aanmerking geneem moet word by die beslissing van die saak nie. Die feit dat die oorledene na ‘n partytjie gegaan het terwyl hy geweet het dat hy ongeveer 110 km alleen in die donker sal moet terugry en dít terwyl hy ‘n lang dag se werk agter die rug gehad het en alkohol gebruik het, moes volgens die hof ook in ag geneem word.

Die hof sê verder dat selfs al was die oorledene ‘n man wat “sy drank kon vat”, moes hy weet dat dit gevaarlik is om te bestuur met soveel drankies agter die blad.

Soos reeds vermeld is getuienis gely dat die oorledene normaal voorgekom het toe hy die partytjie verlaat het en die hof sê dat dit des te meer daarop dui dat hy wel geweet het wat hy doen en dat hy homself dus willens en wetens aan die gevaar verbonde aan die bestuur van ‘n motor terwyl hy onder die invloed van alkohol was, blootgestel het.

Die hof beslis gevolglik dat die versekeringsmaatskappy se aanspreeklikheid in terme van die polis uitgesluit is.

Charlotte van Sittert