Hoe werk koppel transaksies?

< Back
You are here:
Print

‘n Verkoper van ‘n eiendom wil dikwels weer ‘n ander eiendom koop en die opbrengs van die verkoping van sy eiendom benut om die koopprys te betaal.
Een moontlikheid is dat die eerste transaksie eers afgehandel word en die verkoper na afloop daarvan die fondse gebruik om die koopprys op die tweede transaksie te finansier.
‘n Ander moontlikheid is om die twee transaksies te koppel.  Dit beteken dat hulle gelyktydig by die Akteskantoor ingedien word en die transport prokureurs van die eerste transaksie ‘n onderneming gee aan die transport prokureurs van die tweede transaksie om die opbrengs, alternatiewelik ‘n gedeelte daarvan sovêr as wat dit nodig is, van die eerste transaksie aan die transport prokureurs van die tweede transaksie te betaal ten einde die koper se koopprys (of ‘n gedeelte daarvan) te dek.
Byvoorbeeld: Koos van der Merwe verkoop sy eiendom vir R1 000 000.00.  Na aftrekking van die kansellasie syfer ten opsigte van sy bestaande verband bly daar ‘n opbrengs van R700 000.00 oor.
Hy koop weer ‘n eiendom vir R1 500 000.00.
Die twee transaksies kan dan gekoppel word sodat die R700 000.00 teen gelyktydige registrasie van die twee transaksies gebruik word ter gedeeltelike vereffening van die R1 500 000.00 koopprys.

image_pdfSave as PDF