Val die eiendom, wat volgens die testament, waarvolgens dit geërf is, uitgesluit is van die huwelik binne gemeenskap van goedere, in die insolvente gemeenskaplike boedel?

< Back
You are here:
  • KB Home
  • Wills, Trusts and Estates
  • Val die eiendom, wat volgens die testament, waarvolgens dit geërf is, uitgesluit is van die huwelik binne gemeenskap van goedere, in die insolvente gemeenskaplike boedel?
Print

Vraag

Ek het my pa se plaas in die Noord-Kaap geërf. Die testament van my pa bepaal dat alle erfporsies uitgesluit is van die huwelik binne gemeenskap van goedere. Ek is na my pa se afsterwe binne gemeenskap van goedere getroud. My man het ʼn besigheid bedryf. Dinge het ongelukkig skeef geloop met my man se besigheid en ons gemeenskaplike boedel is onlangs insolvent verklaar. Gaan die plaas, wat ek van my pa geërf het, ook deel vorm van die insolvente boedel?

Antwoord

Hierdie vraag op vergelykbare feite is in die beslissing van Du Plessis v Pienaar NO and Others 2003 (1) SA 671 oorweeg.

Die trustees van die insolvente boedel het geargumenteer dat die plaas in die Noord-Kaap inderdaad ook deel vorm van die insolvente boedel. Hulle wou dit dus te gelde maak en die opbrengs onder die skuldeisers verdeel.

Die appellant in die saak, dit wil sê die dogter wat die bates van haar pa geërf het, wat in sy testament bepaal het dat dit uitgesluit is van die huwelik binne gemeenskap van goedere, het aan die ander kant weer geargumenteer dat die bates nie deel gevorm het van die gemeenskaplike boedel nie. Die bates kan dus, volgens haar, ook nie deel vorm van die insolvente gemeenskaplike boedel nie.

Ongelukkig vir haar het die hof nie hierdie argument aanvaar nie. Die Hof bevind dat albei partye, waar gades binne gemeenskap van goedere getroud is, aanspreeklik is vir die skulde van die gemeenskaplike boedel.

Die gevolg daarvan is dat alle bates van albei partye asook van die gemeenskaplike boedel vatbaar is vir beslaglegging.

Die plaas in die Noord-Kaap sou in ons voorbeeld dus ook deel vorm van die insolvente boedel. Dit is natuurlik slegte nuus vir die erfgenaam en goeie nuus vir die skuldeisers van die insolvente boedel.

Die effek van so klousule in ʼn testament, naamlik dat erflatings uitgesluit is van die huwelik binne gemeenskap van goedere en die aanwasbedeling, wat ʼn klousule is wat in die meeste testamente voorkom, is dus eintlik slegs dat die ander gade nie voordeel daaruit kan trek nie. Die ander gade kan dit natuurlik wel weer van die erfgenaam erf ingevolge dié se testament of die intestate erfopvolging. Tot dan het hy of sy egter geen aanspraak daarop nie.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF
Previous Die oorledene het vergeet om die polisbenoeming te verander ten spyte van ‘n ooreenkoms dat hy dit sou doen. Wat nou?
Next Is ‘n testamentêre bepaling vir studiebeurse gekoppel aan ‘n rassistiese voorwaarde afdwingbaar?
Table of Contents