Is ‘n testamentêre bepaling vir studiebeurse gekoppel aan ‘n rassistiese voorwaarde afdwingbaar?

< Back
You are here:
Print

Hierdie vraag het in die volgende saak, naamlik In Re BOE Trust Ltd NNO 2013 (3) SA 236 ter sprake gekom.

Die oorledene het in haar testament bepaal dat ʼn trust opgerig moet word om studiebeurse aan wit Suid-Afrikaanse studente met ʼn sekere graad te voorsien vir verdere studies oorsee. Verder bepaal die testament dat indien die verlening van die studiebeurse nie deur die trustees uitgevoer kan word nie, die fondse vir sekere liefdadigheidsdoeleindes aangewend moet word. Die trustees het vier universiteite genader om met die identifisering van die kandidate vir die studiebeurse te help, naamlik die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Vrystaat. Al vier die universiteite het as gevolg van die rassistiese voorwaarde geweier om betrokke te raak by die proses.

Die trustees bring toe ʼn aansoek vir die skrapping van die voorwaarde dat slegs wit studente kwalifiseer.

Die Hoogste Hof van Appèl verwys eerstens na Artikel 25 van die Grondwet wat onder andere die beginsel van testeervryheid in ons Reg waarborg. Die Hof wys egter ook daarop dat hierdie reg nie absoluut is nie en wel beperkings het.

Die Hof grond dan egter sy beslissing op sy uitleg van die testament en bevind dat die testatrise se bedoeling was om die fondse vir die spesifieke liefdadigheidsdoeleindes beskikbaar te stel indien die studiebeursskema nie uitvoerbaar sou wees nie. Die feit dat die vier universiteite nie wou deelneem nie, het dus hierdie bepaling relevant gemaak. Dit het beteken dat die skema nie uitvoerbaar was nie. Die Hof sê dus dat die trustees die fondse vir die spesifieke liefdadigheidsdoeleindes, deur die testatrise in haar testament aangewys, moet gebruik.

Daar is ʼn ander interessante hofsaak, naamlik Aronson v Estate Hart 1950 (1) SA 539 (A) wat in 1950 beslis is.  Die oorledene het in daardie saak voorgeskryf dat sy seun sy erfporsie sou verbeur as hy met ʼn persoon sou trou wat nie die Joodse geloof volg nie. Die Hof beslis in daardie geval dat so ʼn bepaling inderdaad geldig en afdwingbaar is. Die uitkoms van die saak sou egter moontlik anders gewees het as die saak na die inwerkingtreding van ons Grondwet beslis sou gewees het.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF