Watter regstappe kan geneem word om skulde te vorder?

< Back
You are here:
Print

Die volgende prosesse kan gevolg word:

1. Dagvaardings

Ons glo nie daaraan om aanmanings aan skuldenaars te stuur nie. As die skuldenaar op die aanmaning sou reageer het, sal hy ook op die dagvaarding reageer. In elk geval verhaal ons die dagvaardingskostes in so ‘n geval van die skuldenaar. Boonop stuur ons kliënte in ook eers self rekenings en dikwels ook aanmanings aan die skuldenaar voordat die skuld aan ons oorhandig word. Aanmanings vertraag derhalwe net die proses en gaan ons dus dadelik na ontvangs van die instruksie voort met die uitreik van ‘n dagvaarding.

2. Eksekusieverkopings

Nadat ons verstekvonnis of artikel 58-vonnis bekom het, rëel ons deur middel van die balju eksekusieverkopings. Aangesien die balju nie altyd sy werk behoorlik doen nie, stuur ons gewoonlik, veral by groot eisbedrae, klerke van ons kantore saam met die balju vir die beslagleggings ten einde te verseker dat die opbrengs van die verkoop van daardie bates voldoende is om die eisbedrag tesame met rente en koste te dek. Behalwe vir die skuldenaar se “sigbare bates” (byvoorbeeld sy meubels, sy kar, sy huis ensomeer) sorg ons ook dat die balju op ander bates soos die skuldenaar se bankrekenings, aandele in maatskappye of ledebelange in beslote korporasies, belange in kredietooreenkomste ensomeer beslag lê.

3. Besoldigingsbeslagbevele

‘n Besoldingsbeslagbevel is ‘n opdrag van die Hof aan die skuldenaar se werkgewer om maandeliks ‘n bepaalde bedrag van die skuldenaar se salaris af te trek en aan die skuldeiser of sy prokureur te betaal. Ons gebruik drie prosesse om besoldigingsbeslagbevele teen skuldenaars te bekom, naamlik skulderkennings, finansiële ondersoeke ingevolge artikel 65 en aansoeke in terme van rëel 55. In teenstelling met die meeste ander prokureurs volg ons die prosesse parallel deur na vonnis nie net ‘n lasbrief vir eksekusie uit te reik nie maar ook onmiddellik aansoek te doen vir ‘n besoldingsbeslagbevel. Alhoewel ons ‘n baie goeie verhouding het met die mynmaatskappye in die Rustenburg omgewing, wat die meeste skuldenaars se werkgewers is, skroom ons nie om lasbriewe vir eksekusie teen werkgewers uit te reik wat versuim om die maandelikse betalings ingevolge die besoldigingsbeslagbevel aan ons te maak nie.

4. Skuldbeslagbevel

‘n Skuldbeslagbevel is ‘n opdrag van die Hof aan ‘n debiteur van die skuldenaar om die bedrag of ‘n gedeelte daarvan , wat hy aan die skuldenaar verskuldig is, aan die skuldeiser of sy prokureur te betaal. Sodra ons van ons kliënt of opspoorders inligting oor debiteure van die skuldenaar bekom, bring ons onmiddellik aansoeke vir skuldbeslagbevele.

5. Finansiële Ondersoeke ingevolge Artikel 65

Indien die skuldenaar weier om ‘n skulderkenning te teken, gaan ons gewoonlik voort om hom met artikel 65 stappe Hof toe te dagvaar vir ‘n finansiële ondersoek. Na behoorlike ondervraging sal die Hof dan ‘n bevel maak ingevolge waarvan die skuldenaar die skuld in maandelikse paaiemente moet delg. Aangesien skuldenaars uit die aard van die saak gewoonllik hulle finansiële posisie so sleg as moontlik probeer voorstel, dagvaar ons as ‘n rëel die skuldenaar se werkgewer, gade en bankbestuurder as getuies tydens die ondervraging.

image_pdfSave as PDF