Watter beskerming bied die Maatskappyewet vir minderheidsaandeelhouers?

< Back
You are here:
Print

1. Daar is verskeie bepalings in die Maatskappywet wat gerig is op die beskerming van minderheidsaandeelhouers.  Een van die belangrikste hiervan is Artikel 252, wat in ‘n neutedop bepaal dat ‘n aandeelhouer wat van oordeel is dat ‘n maatskappy waarin hy ‘n belang hou onredelik benadelend, onregverdig of onbillik teenoor hom optree of daardie maatskappy sy sake so bedryf dat dit onredelike benadelend, onregverdig of onbillik teenoor hom is, hy dan die Hof kan nader vir regshulp kragtens hierdie artikel.

2. Sub-artikel 3 bepaal dan verder dat, indien dit vir ‘n Hof na aanleiding van so ‘n aansoek blyk dat die aansoeker se bewerings water hou en die Hof dit reg en billik ag, die Hof dan so ‘n bevel kan gee as wat hy goedvind wat mag insluit ‘n bevel dat die aandele van die beswaarde lid deur ander aandeelhouers of deur die maatskappy uitgekoop moet word.

3. In ‘n onlangse beslissing van die Hoogste Hof van Appèl in die aangeleentheid van Bayly en Andere v Knowles 2010 (4) SA 548 SCA het hierdie bepaling weer onder die vergrootglas gekom, en het die Hof twee belangrike beginsels met betrekking tot die toepassing van Artikel 252 neergelê.

4. Die eerste beginsel is dat ‘n beswaarde minderheidsaandeelhouer op die keper beskou verplig is om ‘n billike aanbod vir die oorname van sy belang in die maatskappy te aanvaar.  Indien hy so ‘n billike aanbod ontvang, maar dit sonder goeie gronde afwys, word hy eintlik geag om toe te stem tot die verduring van die onbillike optrede teenoor hom waaroor hy hom bekla.  Om verbatim uit die beslissing aan te haal:

“In the context of s 252 the failure of a minority shareholder to accept a reasonable offer for his shares and leave the company in the hands of the majority is, at least, strong evidence of a willingness to endure treatment which is prima facie inequitable despite the choice of a viable alternative.  If that is so, it would not ordinarily behove him to continue to complain about oppression.”

5. Op die feite van die saak het die Hof bevind dat die betrokke aandeelhouer inderdaad ‘n redelike aanbod ontvang het wat hy sonder redelike gronde afgewys het.  Hy het bloot aangevoer dat die aanbod vir hom onaanvaarbaar was.  Die onaanvaarbaarheid het niks met die finansiële terme van die aanbod te make gehad nie.

6. Die Hof wys egter daarop dat die reël dat ‘n billike aanbod aanvaar behoort te word en die maatskappy dan in die hande van die meerderheid gelaat moet word, egter nie absoluut is nie.  As daar nie ‘n redelike vooruitsig is dat die aanbieder sy aanbod kan nakom nie, kan dit geweier word.  Die Hof sê ook dat daar gevalle kan wees waar die aanbod, hoewel redelik, met so ‘n mate van kwade trou of bedoelings gemaak word dat afwysing daarvan verskoonbaar mag wees.

7. Die tweede reël wat die beslissing bevestig, is dat die Hof by die toepassing van Artikel 252 nie net die belange van die strydende aandeelhouers in ag moet neem nie, maar ook die belange van die maatskappy en van die ander aandeelhouers wat nie by die dispuut betrokke is nie.  In die besondere geval het die maatskappy agt aandeelhouers gehad.  Twee aandeelhouers wat beide ongeveer 32% aandeelhouding gehou het, het mekaar aan die keel gegryp.  Die aansoeker het alleen gestaan in die hofstryd en die ander aandeelhouers het hulle by die Respondent geskaar.  In die Hof van eerste instansie is die aansoeker gelyk gegee.  Die Hoogste Hof van Appèl beslis dat so ‘n benadering afbreuk doen aan hierdie tweede reël wat nou bespreek word.  Die maatskappy was suksesvol bestuur.  Die aansoeker was nie so goed met die maatskappy se sake vertroud as die besturende direkteur met wie hy in ‘n dispuut betrokke was nie.  Dit sou die maatskappy skaad indien die aansoeker die besturende direkteur se belang moes oorneem soos wat die Hof van eerste instansie se bevel tot gevolg sou gehad het.  Verder sou dit die ander passiewe aandeelhouers prakties in die bed dwing met iemand in wie hulle nie vertroue gehad het nie, en wat hulle ook nie ondersteun het in die regstryd nie.

image_pdfSave as PDF