Wat is ‘n Anton Piller-bevel?

< Back
You are here:
Print

Gedurende die afgelope paar maande het ons in die media gelees dat daar beslaggelê is op dokumente en/of rekenaarskywe en ander eiendom van individue met die oog op verkryging van inligting wat nodig is in hoë profiel siviele aangeleenthede of ook kriminele aangeleenthede. Die reg van ‘n balju om, sonder vooraf kennisgewing, bloot u woning of besigheidsperseel te betree, word dan dikwels bevraagteken. Ons lees dan in die media van die sogenaamde Anton Piller-bevel.

Mnr. Anton Piller was ‘n Duitse vervaardiger en verspreider van ‘n frekwensiemoduleerder wat spesifiek ontwerp is vir gebruik in IBM rekenaars. In 1975 het mnr. Piller goeie redes om te vermoed dat die verspreidingsmaatskappy in die VSA, wat sy produk versprei, vertroulike inligting in verband met die produk aan ander maatskappye oordra. Hy doen aanvanklik onsuksesvol aansoek in die Hooggeregshof van die VSA vir ‘n bevel wat sy maatskappy se verteenwoordigers sal toelaat om die perseel van die verspreidingsmaatskappy te deursoek ten einde dokumente wat betrekking het op die onregmatige verspreiding van vertroulike inligting, in beslag te neem. Hy teken appèl aan na die hoogste hof van appèl in die VSA en daardie hof bevind dat die howe wel gemagtig is om sodanige bevel te verleen sonder dat daar enige kennisgewing vooraf aan die ander party gegee word. Dit is egter net in uitsonderlike gevalle, waar daar nie ‘n ander wyse is om te verseker dat geregtigheid teenoor die aansoeker geskied met betrekking tot inligting wat redelikerwys nodig is, om die saak te bewys nie. Indien die teenparty vooraf weet dat daar inspeksie by die betrokke perseel sal plaasvind, sal broodnodige getuienis heelwaarskynlik vernietig en verwyder word.

Na hierdie bevel in die VSA het soortgelyke bevele, ook in Suid-Afrika, bekend gestaan as ‘n “Anton Piller-bevel”. Die eerste Anton Piller-bevel in die Suid-Afrikaanse reg, isvyf jaar later in 1980 toegestaan en kan kortliks omskryf word as ‘n bevel om getuienis te verkry en te bewaar ten einde die aansoeker in staat te stel om later substantiewe regshulp te verkry.

Dit is duidelik uit ons regspraak dat die bevel met die uiterste sorg uitgevoer moet word, ten einde te verseker dat elkeen se grondwetlike reg op privaatheid nie geskend word nie. Die bevel sal ook slegs in buitengewone omstandighede toegestaan word en spesifiek eers as die hof tevrede is dat daar waarskynlik ‘n goeie eis is wat afdwingbaar sal wees indien dit bewys word en dat die ander party waarskynlik in besit is van getuienis wat van wesenlike belang is vir die eis om te slaag. Die hof moet verder van oordeel wees dat hierdie belangrike getuienis vernietig of verwyder sal word indien ‘n Anton Piller-bevel nie toegestaan word nie.

Gedingvoerders kan dus nie ‘n Anton Piller-bevel misbruik vir ‘n sogenaamde “fishing expedition” nie. Die bekende Lord Bowen het gedurende die 18de eeu ‘n “fishing expedition” pragtig beskryf as: “a blind man in a dark room … looking for a black hat …which isn’t there”.

image_pdfSave as PDF