Wat behoort ek as vrou te weet van my regte as langslewende gade?

< Back
You are here:
Print

In terme van die Gemenereg kan ‘n ouer nie sy minderjarige kinders se eise vir onderhoud ontneem nie. Die minderjarige kind het altyd ‘n eis vir onderhoud teen die boedel totdat hy selfonderhoudend is. Gades word weer beskerm deur die Wet Op Onderhoud Van Langslewende Gades, 27 van 1990 waarvolgens die langslewende ‘n eis teen die boedel kan instel, waar hy/sy nie genoeg erf nie om aan sy/haar redelike onderhoudsbehoeftes te voldoen nie.

Beide die afhanklike kind en die langslewende gade kan in bepaalde omstandighede tussentydse onderhoud van die boedel eis. Die eis van ‘n minderjarige kind en dié van ‘n gade is gelyk. Die een kry nie voorkeur bo die ander een nie. Die algemene reël is dat eise, insluitende onderhoudseise, eers na bekragtiging van die likwidasie- en distribusierekening betaal word.  Artikel 26(1)(A) van die Boedelwet magtig egter die eksekuteur om met toestemming van die Meester intussen fondse beskikbaar te stel vir dié doeleindes.

Wat die rangorde van eise teen ‘n bestorwe boedel aanbetref, is dit belangrik om te onthou dat alle eise teen die boedel, insluitende eise ingevolge die aanwasbedeling, eers gedelg moet word voordat onderhoudseise ter sprake kom. Na betaling van alle moontlike onderhoudseise, indien van toepassing, word die netto boedel dan onder die erfgename verdeel ingevolge die testament of, waar daar nie een is nie, ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging, 81 van 1987. Met ander woorde die rangorde lyk soos volg:

* Eise teen die boedel;
* Onderhoudseise;
* Erfporsies.

Enige eis teen die boedel, insluitende onderhoudseise, word deur die eksekuteur oorweeg.  Die eksekuteur het dan ‘n diskresie om die vordering te aanvaar of af te wys. In laasgenoemde geval kan ‘n skuldeiser hom tot die Meester van die Hooggeregshof asook die hof wend om sy eis af te dwing.

Waar begunstigdes in die geval van lewenspolisse benoem is, vorm die polisopbrengste nie deel van ‘n bestorwe boedel nie. Sodanige polisse word naamlik direk aan ‘n begunstigde uitbetaal.  Dit word, wat die bereddering van die boedel aanbetref, slegs vir boedelbelastingdoeleindes in aanmerking geneem.  Hierdie beginsel is dikwels ook van belang by die vraag wat die langslewende alles na afsterwe gaan ontvang.  Waar die testament byvoorbeeld die langslewende as enigste erfgenaam aanwys, maar verdere persone, byvoorbeeld kinders, is as begunstigdes van die lewenspolisse benoem, sal daardie lewenspolisse direk aan die kinders uitbetaal word en sal die langslewende glad nie deel in die opbrengs van die polisse nie.

Waar ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling deur dood of egskeiding beëindig word, behou elke gade as ‘n uitgangspunt sy of haar boedel en het die gades as ‘n reël geen eise teen mekaar vir ‘n herverdeling van bates.

Waar gades buite gemeenskap van goedere trou, kan dit egter nog steeds in die lig van die feite van die spesifieke geval moontlik wees dat ‘n hof sal bevind dat die man en die vrou in vennootskap hulle sake bedryf het sodat die beginsels van toepassing by die likwidasie van ‘n vennootskap ook na afsterwe sal geld.  So byvoorbeeld kan dit wees dat die man en die vrou in vennootskap ‘n besigheid bedryf het op ‘n 50/50 basis en sal die langslewende gade op grond daarvan ook moontlike eise kan instel teen die man se boedel.

By ‘n huwelik buite gemeenskap van goed met die aanwasbedeling word die aanwas vanaf datum van huweliksluiting van albei boedels gelyk deur die gades gedeel.  Die relevante wetgewing skryf ‘n formule voor om hieraan uitvoering te gee.  Die aanwas van elke boedel word naamlik bereken deur die beginwaarde (asook enige bates wat spesifiek in die huwelikskontrak uitgesluit word) af te trek van die eindwaarde.  Dit is dus geweldig belangrik vir enige man of vrou wat in die huwelik tree (veral vir die vrou waar sy na die kinders gaan omsien, die huishouding gaan hanteer en geen of baie min inkomste gaan genereer nie) om ‘n ingeligte besluit te neem oor die keuse van ‘n huweliksgoederebedeling en te verstaan dat sy met ‘n groot finansiële verknorsing kan sit in die geval van egskeiding of dood waar sy buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling trou – en moenie daarop staat maak dat die man vir jou belowe dat jy in elk geval alles volgens sy testament gaan erf nie; hy kan die testament te enige tyd eensydig herroep. ‘n Huwelikskontrak kan aan die ander kant slegs met die toestemming van albei gades en met ‘n hooggeregshofbevel verander word.

In dié verband is die vraag ook interessant of ‘n mens jou testament met jou erfgename, insluitende jou gade, behoort te bespreek.  Ons glo vas dat dit in die meeste gevalle gepas is en ‘n klomp spanning tussen erfgename en afhanklikes na jou afsterwe kan voorkom. Dit is dikwels selfs sinvol vir al die betrokkenes om om ‘n tafel te sit en die saak te bespreek sodat ‘n testament opgestel kan word wat regverdig teenoor almal is en waaroor almal tevrede voel.

Wat ‘n pensioen betref, bepaal die Raad van Trustees ná die dood wie die pensioen moet kry. Hulle neem almal se omstandighede asook die pensioenaris se aanwysings in ag.

Dit is ook belangrik om ná ‘n egskeiding ‘ n nuwe testament op te stel aangesien daar ‘n venstertydperk van drie maande is wat die testament betref. Sou ‘n huweliksmaat binne drie maande ná die afhandeling van die egskeiding sterf, erf die voormalige gade niks. Maar as die testament na drie maande nie gewysig word nie erf die voormalige gade wel.

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

 

image_pdfSave as PDF
Previous What are the duties of the trustees?
Next Should I register a family trust?
Table of Contents