Kan ‘n werknemer ontslaan word deur sy werkgewer omdat hy in ‘n homoseksuele verhouding betrokke is?

< Back
You are here:
Print

Hierdie vraag het in die saak van JOHAN DANIEL STRYDOM V NEDERDUITSE GEREFORMEERDE GEMEENTE MORELETA PARK ter sprake gekom. Mnr Strydom is in 2005 afegdank as musiek dosent by die NG Gemeente Moreleta Park se kunste akademie weens die feit dat hy in ‘n homoseksuele verhouding betrokke was.  Hy het die kerk in die gelykheidshof gedagvaar vir onbillike diskriminasie op grond van sy seksuele voorkeur en op sy reg tot gelykheid en menswaardigheid staat gemaak.

Die Kerk het weer gesteun op die reg tot godsdiensvryheid.  Eerstens was die Kerk van mening dat mnr Strydom in ‘n leierskap posisie geplaas is en dus as ‘n rolmodel beskou is.  Hy moes gevolglik, volgens die Kerk, ‘n uitnemende christelike leefstyl haandhaaf en die Kerk se ideale volg.

Regter Dion Basson het daarop gewys dat hy nie oortuig was van die feit dat mnr Strydom in ‘n leierskap posisies aangestel is nie.  Hy was nie ‘n lid van die NG Kerk Moreleta Park nie en het ook nie aan die Kerk se aktiwiteite deelgeneem nie.  Hy is slegs as ‘n kontrakwerker aangestel om musieklesse aan te bied vir studente wat reeds gematrikuleer het en het geen christelike onderrig gegee nie.

Die Kerk se tweede argument was dat mnr Strydom nie ‘n voorbeeld vir sy studente was nie en dat hy ‘n swak invloed op hulle sou hê.  Regter Basson het hierdie kwessie aangespreek deur uit te lig dat die studente reeds gematrikuleer het en dat daar net sewe studente was.  Hy was nie oortuig daarvan dat dit deel van mnr Strydom se werksverpligtinge gevorm het om as rolmodel vir christenskap op te tree nie.  Daar was ook geen bewys dat mnr Strydom sy studente of enige ander lid van die gemeenskap wou beinvloed het nie.  Hy wou in teendeel sy homoseksualiteit stil gehou het weens die feit dat hy dit as ‘n private saak beskou het.  Die Kerk het daarvan tehore gekom danksy ‘n derde party.

Laastens het die Kerk beweer dat dit ernstige gevolge sou hê indien die Kerk vir mnr Strydom aangehou het, omrede dit sou voorkom of die Kerk sy homoseksuele verhouding goedkeur.  Regter Basson het hierop geantwoord dat die Kerk dit kon verduidelik deur te verwys na hulle grondwetlike plig om nie teen mnr Strydom te diskrimineer nie op grond van sy homoseksualiteit.

Regter Basson het dus tot die gevolgtrekking gekom dat die Kerk wel onbillik teen mnr Strydom gediskrimineer het op grond van sy homoseksualiteit en dat hierdie diskriminasie ‘n groot impak op sy lewe gehad het.  Die Regter het gevolglik R75 000 aan hom toegestaan vir die skending van sy menswaardigheid en emosionele lyding en ‘n verdere R11 970 vir die verlies aan inkomste.  Die kerk moes ook sy regskostes dek en vir hom om verskoning vra.

image_pdfSave as PDF