Het kinders ‘n regsplig om hulle ouers te onderhou?

< Back
You are here:
Print

JACOBS v ROAD ACCIDENT FUND 2010 (3) SA 263 (South Eastern Cape Local Division)

INLEIDING

In die onderhawige saak moes die Hof beslis of, in die lig van die besondere feite van die saak, die oorledene ‘n regsplig gehad het om sy vader (die eiser), te onderhou.

DIE FEITE

Die Eiser was mnr. Jacobs en die Verweerder die Padongeluksfonds.

Mnr Jacobs se seun (hierna verwys as die “oorledene”) het in ‘n motorfiets ongeluk gesterf op 4 Maart 1999 nadat sy motorfiets gebots het met ‘n minibus waarvan die bestuurder nalatig was. Die meriete van die saak is nie in dispuut geplaas deur die Verweerder nie.

Die oorledene was ‘n 22 jaarige ambagsman en was ongetroud sonder kinders.

Sy vader, mnr. Jacobs, was 61 jaar oud en was werkloos weens swak gesondheid terwyl mev Jacobs (oorledene se moeder), ‘n karige inkomste verdien het. Dit is verder gemene saak dat die oorledene R600 per maand bygedra het tot die onderhoud van sy vader wat geen inkomste uit enige bron ontvang het nie (ook nie ‘n welsyns of ongeskiktheids-toelaag nie) en ook nie oor enige noemenswaardige bates beskik het nie.

DIE HOF SE UITSPRAAK

Die Hof het eerstens die beginsel bevestig dat ‘n kind wel ‘n regsplig het om sy ouers te onderhou.

In ooreenstemming met die regspraak ontstaan ‘n kind se regsplig om sy ouers te onderhou egter slegs onder die volgende omstandighede:

• waar beide ouers armlastig is;

• waar die ouers nie in staat is om hulself te onderhou nie;

• waar die kind in staat is om onderhoud te betaal.

Om te kon slaag met sy aksie, moes ‘n Eiser al die bogenoemde vereistes bewys het.

Die Hof het klem gelê op die feit dat elke saak op eie meriete beoordeel moet word.

Op grond van die feite van hierdie saak het die Eiser bewys dat die regsplig om hom te onderhou, inderdaad ontstaan het vir die volgende redes:

• Die Eiser het die Hof oortuig dat hy armlastig was
• Die Eiser het die Hof oortuig dat sy seun wel in staat was om hom (die Eiser) te kon onderhou.

Die Hof het verder bevind dat die oorledene uit eie vrye wil die Eiser (sy vader) onderhou het en daardie feit opsigself bevestig die vermoede dat die oorledene sy vader ook in die toekoms sou onderhou het indien die ongeluk nie plaasgevind het nie.

KOMMENTAAR

Alhoewel die Eiser in die saak onder bespreking geslaag het met sy aksie vir verlies aan onderhoud, moet daar in gedagte gehou word dat verskeie soortgelyke eise in die verlede misluk het (en ook in die toekoms sal misluk) waar ouers daarop aanspraak maak dat hulle kinders ‘n regsplig het om hulle te onderhou omrede hulle nie kan bewys dat hulle (die ouers) armlastig is nie en/of die kinders in staat is om die ouers te kan onderhou nie.

Elke saak moet gevolglik op sy eie feite beoordeel word, en die algemene beginsel is dat die ouer moet kan bewys dat hy of sy afhanklik was van die oorlede kind se onderhoud ten aansien van die die ouer se basiese noodsaaklike behoeftes (“ basic necessities of life”) wat weer bepaal sal word deur die betrokke ouer se lewensstandaard.

image_pdfSave as PDF