Die oorledene het vergeet om die polisbenoeming te verander ten spyte van ‘n ooreenkoms dat hy dit sou doen. Wat nou?

< Back
You are here:
Print

Hierdie vraag is in die volgende beslissing oorweeg, naamlik Jordaan NO v Lustig and others (05/16053) [2007] ZAGPHC 350 (15 November 2007).

Feite:

Die eiser in die saak was Gerald Louis Jordaan (Senior), geoktrooieerde rekenmeester en ook die eksekuteur van sy seun, wyle Gerald Louis Jordaan (Junior) se boedel. Hy het vir ʼn hofbevel gevra dat Liberty Life die opbrengs van ʼn sekere lewensversekeringspolis aan die boedel betaal en nie aan die genomineerde begunstigde, die eerste verweerder, nie.

Uit die getuienis voor die Hof blyk dit dat die oorledene en die  eerste verweerder van kindertyd af vriende was. Hulle het ook op ʼn stadium saam ʼn restaurantbesigheid in Springs begin. Daar is toe vier versekeringspolisse uitgeneem uitsluitlik vir die besigheid se doeleindes. Al die polisdokumente het inderdaad bevestig dat die bedoeling was om mekaar te verseker as vennote. Die twee het egter nie ʼn koop- en verkoop-ooreenkoms aangegaan nie.

Hulle besigheidsverhouding is in September 2003 beëindig en die eerste verweerder het skriftelik ooreengekom om afstand te doen van sy 49%-belang in die besigheid vir die bedrag van R100 000.00 en ʼn Opel Kadett motorvoertuig.

Die eksekuteur namens die boedel se standpunt was dat die oorledene en sy vriend ooreengekom het om die polisnominasies te kanselleer en dat die oorledene bloot as gevolg van ʼn oorsig versuim het om die benoeming van die polis van ongeveer R600 000.00, waaroor die dispuut gaan, te verander. Die eerste verweerder het weer geargumenteer dat daar nie so ʼn ooreenkoms was nie en dat hy nog steeds as begunstigde geregtig is op die opbrengs.

Uitspraak:

Die Hof fokus dus in sy uitspraak hoofsaaklik op die feitedispuut. Die regter evalueer die verskillende getuienis en kom tot die gevolgtrekking dat die eiser se getuies betroubaar en eerlik was en in alle wesenlike aspekte mekaar ondersteun het. Aan die ander kant sê die Hof dat hy glad nie beïndruk was met die eerste verweerder se getuienis nie.

Die Hof wys ook verder daarop dat die omringende omstandighede, naamlik die beëindiging van die besigheidsverhouding tussen die twee, waarvoor die polisse aanvanklik uitgeneem is, ook die eiser se weergawe ondersteun.

Die Hof bevind dus dat die oorledene as gevolg van ʼn oorsig ten spyte van ʼn ooreenkoms tussen hom en sy vriend versuim het om die Liberty Life polisbenoeming te verander. Die boedel is gevolglik geregtig op die opbrengs van die polis. Dit sou dus uiteindelik na die weduwee en die oorledene se kinders gaan.

Die Hof sê verder dat hy geen ander keuse het nie as om te aanvaar dat die eerste verweerder opportunisties probeer het om die opbrengs van die polis te bekom wat hom eintlik nie toekom nie.

Volker Krüger

U kan ‘n testamentinstruksievel hier voltoi: Testament Instruksievel / Will Instruction Sheet

image_pdfSave as PDF
Previous Kan die langslewende gade haar adiasie van die gesamentlike testament, wat vir boedelsamesmelting voorsiening maak, terugtrek?
Next Val die eiendom, wat volgens die testament, waarvolgens dit geërf is, uitgesluit is van die huwelik binne gemeenskap van goedere, in die insolvente gemeenskaplike boedel?
Table of Contents